Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Britte, Skotte haaks oor referendum vir onafhanklikheid

Britse en Skotse politici het Sondag die risiko van ’n regstryd oor nóg ’n referendum oor Skotse onafhanklikheid afgemaak, maar nie enige klarigheid gegee oor hoe Londen en Edinburg hul verskille oor dié kwessie gaan oplos nie.

Partye ten gunste van Skotse onafhanklikheid het die afgelope Donderdag ’n meerderheid in die parlementêre verkiesing gewen.

Nicola Sturgeon, die Skotse premier, sê  die meerderheid gee haar ’n mandaat om ná die koronaviruspandemie voort te gaan met planne vir ’n Skotse referendum oor onafhanklikheid.

Boris Johnson, Britse premier en leier van die Konserwatiewe Party – wat die opposisie vorm in die Skotse parlement – is sterk gekant teen ’n referendum omdat dié kwessie volgens hom met die referendum oor Skotse onafhanklikheid in 2014 opgeklaar is. Die meerderheid Skotte het in dié referendum met 55% teenoor 45% teen onafhanklikheid gestem.

Daar is toenemende bespiegeling dat die Britse regering hom tot die hof sal wend om nog ’n Skotse referendum te verhinder.

Michael Gove, ’n senior minister in Johnson se kabinet, is Sondag in TV-onderhoude herhaaldelik gevra hoe Londen die Skotse kwessie gaan hanteer.

Gove het verseg om enige detail te verklap, en aangevoer die Skotte wil hê politici moet fokus op herstel ná die pandemie, probleme in die Skotse onderwysstelsel en ernstige dwelmmisbruik.

Toe hy in ’n BBC-onderhoud gevra is of die Britse regering in ’n regstryd met Sturgeon betrokke gaan raak om haar te keer om ’n referendum uit te roep, het hy geantwoord: “Nee, die eerste ding wat ek wil sê, is om Nicola geluk te wens met haar verkiesingsoorwinning.”

Op die vraag of sy antwoord op die moontlikheid van enige regsaksie ’n besliste nee is, het Gove geantwoord hy vermy dié kwessie: “Ons gaan nie daar naby nie.”

Politieke kommentators verskil of Gove se antwoorde vertolk kan word as ’n onderneming dat Londen nie in ’n hofstryd met Edinburg gewikkel sal raak nie, en of hy bloot die vrae probeer omseil het.

Nicola Sturgeon, Skotse premier en leier van die Skotse Nasionale Party (SNP), wys vir die fotograwe voor die Bute-huis in Edinburg hoe gelukkig sy met die verkiesingsuitslae is. Foto: AP

Sturgeon het kort ná Gove op dieselfde BBC-program verskyn en gesê ongeag wat Gove met sy antwoorde bedoel het, dit “geheel en al absurd en buitensporig is vir die Britse regering om regsaksie te gebruik om ’n referendum te keer”.

“Vir die kwessie om in die hof te beland, is iets wat ek nie sommer sal wil sien gebeur nie, dit sal beteken dat die Konserwatiewe regering weier om die demokratiese wense van die Skotse mense te eerbiedig.”

Sturgeon het aangevoer dat indien die Britse regering die mag van die reg wil gebruik om ’n referendum te keer, dit sal beteken dat die 300 jaar oue unie tussen Engeland en Skotland nie op toestemming gegrond is nie. “Ek dink nie ons sal daar eindig nie.”

Kragtens die Skotland-wet van 1998 – wat tot die vestiging van die Skotse parlement en die delegering van sommige magte van Londen na Edinburg gelei het – berus die mag vir alle kwessies wat te doen het met die “Unie van die koninkryke van Skotland en Engeland” by die Britse parlement.

Die Britse regering kan aan die Skotse parlement goedkeuring gee om ’n referendum te hou, soos wat in 2014 gedoen is. Volgens Sturgeon moet dié proses weer gevolg word vir ’n nuwe referendum. - Reuters

Meer oor:  Boris Johnson  |  Nicola Sturgeon  |  Michael Gove  |  Referendum  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.