Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Britte stroom na stembus soos in dae van Churchill

Die stempersentasie in Donderdag se derde Britse algemene verkiesing in net meer as vier jaar kan die hoogste in dekades wees.

Die verkiesing, wat bekend staan as die Brexit-verkiesing oor Brittanje se waarskynlike onttrekking aan die Europese Unie (EU), word beskou as een van die belangrikstes in die geskiedenis van die wêreld se oudste demokrasie.

Die webwerf Mailonline berig die stempersentasie kan die hoogste wees sedert die politieke stryd tussen sir Winston Churchill (Konserwatiewe Party/Tories) en Clement Attlee (Arbeidersparty) in die 1950’s.

Die webwerf berig lang toue kiesers het by stempunte gewag om hul kruisies te trek in die eerste verkiesing sedert 1923 wat in Desember gehou word en die eerste in die winter die laaste 45 jaar.

Die Britte hou gewoonlik hul algemene verkiesings in Mei wanneer dit warmer is, maar Boris Johnson, die Britse eerste minister, het dié verkiesing ses weke gelede uitgeskryf toe hy nie sy planne deur die Westminster-parlement gevoer kon kry om die EU finaal die rug toe te keer nie.

boris johnson, jeremy corbyn
Die Britse premier, Boris Johnson, en die leier van die Arbeidersparty, Jeremy Colbyn, Woensdag nadat hulle gaan stem het. Foto: AP

Johnson het Donderdag in die Methodist Central Hall naby 10 Downing Street in Westminster gaan stem.

Sy hond, Dilyn, was saam met hom.

Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, het in Islington-noord sy kruisie getrek.

Die Tories, wat in 1834 gestig is, is sedert 2010 die regerende party nadat die Arbeidersparty, wat in 1900 gestig is, van 1997 tot 2010 aan die bewind was.

Die Arbeiders het veral tussen 1997 tot 2007 sterk gestaan toe Tony Blair eerste minister was.

Brittanje se sowat 46 miljoen kiesers stem by 40 000 stembusse wat selfs in onder meer kroeë, ’n haarsalon en ’n windmeule gehuisves word, berig Sky News.

Dit is koud en nat in Brittanje en die moontlikheid van sneeu in hoogliggende gebiede word nie uitgesluit nie.

Om regstreeks te kan regeer, moet die wenparty 326 van die 650 setels wen.

’n Kiesbeampte by die Thelnetham-windmeul in Suffolk, Engeland, plak ’n kennisgewing by ’n stempunt op.Foto: Reuters

Die laaste keer wat die Tories ’n volstrekte meerderheid gewen het, was in 2015 toe David Cameron nog eerste minister was.

Hy het in 2016 bedank toe die Britte in ’n referendum gestem het ten gunste van onttrekking aan die EU. Cameron kon hom nie daarmee vereenselwig nie en het besluit om eerder uit te tree.

’n Groot aantal Britse kiesers wag Donderdag in Clapham, Londen, buite ’n stembus om in die algemene verkiesing te stem.Foto: Reuters

Die Evening Standard berig hoewel die Tories waarskynlik die verkiesing sal wen, wys meningspeilings een uit elke vier Britte wat by die stembus opgedaag het, was nie vooraf oortuig vir wie hulle sou stem nie.

Volgens ’n meningspeiling wat Ipsos Mori vir dié koerant gedoen het, het die steun vir die Tories van 41% in Oktober tot 44% vandeesweek gestyg.

Die Evening Standard sê as die kiesers wel só stem, sal dit wys Johnson was reg om ’n kans te waag en ’n verkiesing uit te skryf.

Dit sal ’n ramp vir Corbyn wees en ’n groot terugslag vir Jo Swinson, leier van die Liberaal-Demokrate.


Meer oor:  Jeremy Corbyn  |  Boris Johnson  |  Britse Verkiesing  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.