
Sultan Hassanal Bolkiah Foto: Reuters
Broenei se sultan Hassanal Bolkiah het Sondag ’n moratorium op die doodstraf vir gay seks geplaas ná internasionale protes daarteen wat gelei is deur bekendes soos George Clooney en Elton John.
Dié klein land het opspraak veroorsaak toe hy op 3 April sy nuwe, strenger, interpretasie van Islamitiese wette bekend gemaak het wat sodomie, egbreuk en verkragting met die dood deur steniging straf.
Sedert 1957 is die doodstraf nie in Broenei toegepas nie.
Broenei het voortdurend sy reg verdedig om die wette toe te pas. Elemente van dié wette is die eerste keer in 2014 aanvaar en is sedertdien in fases in werking gestel.
In seldsame reaksie op kritiek het die sultan egter gesê die doodstraf sal nie opgelê word vir seks tussen twee mans nie.
“Ek weet dat daar baie vrae en wanpersepsies is oor die implementering van die sjaria-wetgewing. Ek glo egter dat sodra dié wanpersepsies uit die weggeruim is, die meriete van die wetgewing duidelik sal word,” het die sultan in ’n toespraak gesê.
Die implementering van die sjaria-wette is veroordeel deur die Verenigde Nasies (VN) en bekendes en maatskappye het hotelle wat deur die sultan besit word, geboikot. Sommige reisagentskappe het opgehou om Broenei as ’n toeristebestemming te bemark. – Reuters