Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Buitelandse onderwysers in China gewaarsku

Buitelandse onderwysers in China word al hoe meer in hegtenis geneem en gedeporteer te midde van ’n algemene ingryping vir ’n “skoner, meer patriotiese” onderwysstelsel.

Vier regsfirmas het aan Reuters gesê versoeke om onderwysers uit die buiteland te verteenwoordig het die laaste ses maande tussen vier- en tienvoudig toegeneem, terwyl onderwysers en skole bevestig het dat van hul buitelandse onderwysers vir klein oortredings aangehou word.

’n Advertensie buite ’n Engelse skool in Beijing.Foto: Reuters

Daar is vermoedelik tot soveel as 3 000 meestal jong Suid-Afrikaners wat in China Engelse klasse vir jong mense en kinders gee aan spesiale Engelse skole buite die amptelike skoolstelsel.

Die Switserse groep Education First (EF), wat 300 skole in 50 Chinese stede het, het in ’n interne kennisgewing hul onderwysers gewaarsku daar was ’n noemenswaardige toename in aanhoudings van onderwysers weens beweerde misdade wat insluit dwelms, gevegte en oortredings oor kuberveiligheid.

Die kennisgewing lui dat EF-werkers deur die polisie by hul huise, werk, kroeë en nagklubs opgetel is en dan word hul ondervra en vir dwelms getoets. Ambassades het die skole ook al gewaarsku oor die groter getalle inhegtenisnemings.

’n Internasionale skool in Beijing en ’n onderrig-agentskap in Sjanghai het onafhanklik die styging in inhegtenisnemings bevestig.

’n Woordvoerder vir EF wou nie kommentaar lewer nie want hulle “heg hoë waarde aan hul samewerking met die Chinese owerhede en herinner personeel gereeld aan die belangrikheid van regulasies en die nakoming van beleid”.

Peter Pang, ’n regsverteenwoordiger wie se firma in Sjanghai baie buitelandse onderwysers in dispute verteenwoordig, sê daar is ’n geweldige druk op hulle om “sake skoon te hou”.

“Dit is alles deel van pres. Xi Jinping se idee dat China in die oë van die wêreld goed moet lyk ”

China se departement van onderwys en die polisie wou nie kommentaar lewer nie.

Die aanhoudings kom terwyl die spanning tussen China en Westerse lande, veral Amerika en Australië, opbou.

Daar het in 2017 sowat 400 000 buitelanders in China se onderrigstelsel gewerk. Dit is die laaste syfers wat bekend is. Die mense werk in skole, kolleges en taalinstitute.

Die bedryf is bekend vir wanpraktyke aan albei kante, met baie buitelandse onderwysers wat in China werk sonder behoorlike visums en sommige skole buit dit uit.

Gereelde dwelmtoetse word op onderwysers gedoen. Drie onderwysers in Sjanghai is tussen 10 en 30 dae in die tronk aangehou nadat hulle herhaaldelik vir dwelms getoets is.

Een van die drie, wie se urientoetse geen dwelms getoon het nie, is twee weke later weer aangehou omdat daar tekens van dagga in sy hare gevind is.

“Ek het nie ’n enkele dwelm in China gebruik nie,” het hy gesê.

Tekens van dagga kan tot 90 dae in hare gevind word nadat die dwelm gebruik is. – Reuters

Meer oor:  China  |  Waarskuwing  |  Wêreld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.