Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Bushiri’s kan weer in hegtenis geneem word

Al is die selfverklaarde profeet en sakeman Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, deur ’n Malawiese hof vrygelaat nadat hulle uit Suid-Afrika gevlug het, kan hulle weer in hegtenis geneem word.

Só sê adv. JJ du Toit, ’n afgetrede adjunkdirekteur van openbare vervolgings, wat baie ervaring van uitlewerings het.

Die egpaar, wat uit Suid-Afrika na Malawi (hul geboorteland) gevlug het nadat hulle in Pretoria van bedrog en geldwassery van sowat R102 miljoen aangekla is, is Donderdag in Lilongwe vrygelaat omdat hul inhegtenisneming vroeër vandeesweek in dié stad volgens ’n landdros onwettig was.

Nadat die landdros beveel het die egpaar moet vrygelaat word, het Shepherd dit as “ ’n oorwinning vir God” beskryf.

Du Toit sê dit blyk nou die Bushiri’s is in hegtenis geneem voordat die Malawi-owerhede die aansoek om hul voorlopige inhegtenisneming van Suid-Afrika ontvang het. Daar was wel ’n versoek van Interpol dat dit gedoen word.

Die aanklaer het gevra dat die saak vir 30 dae uitgestel moet word in afwagting op Suid-Afrika se amptelike versoek. Die landdros wou dit nie toestaan nie.

News24 berig intussen Gospel Kazako, Malawi se minister van inligting, sê Malawi se direkteur van openbare vervolging gaan appèl aanteken teen die landdros se beslissing.

Du Toit sê sodra Malawi die amptelike aansoek – vergesel deur stawende dokumente – van Suid-Afrika ontvang, kan die egpaar weer in hegtenis geneem word. Dit is as Malawi nie intussen wel die voorlopige inhegtenisneming uitvoer nie.

Hy sê hoewel ’n bilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Malawi nie voorsiening maak vir voorlopige inhegtenisneming nie, kan dit wel kragtens die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se protokol vir uitlewering gedoen word.

Ooreenkomste tussen twee lande is ondergeskik aan die SAOG-protokol, sê Du Toit.

Daarom was dit binne Suid-Afrika se reg om te vra dat die egpaar voorlopig in hegtenis geneem word.

Nadat daar verlede naweek besef is die egpaar het uit Suid-Afrika padgegee – ondanks daarvan dat hulle kragtens hul borgvoorwaardes hul paspoorte moes indien – is die hulp van Interpol ingeroep.

Vroeër is berig die egpaar het vermoedelik vroeg vandeesweek snuf in die neus gekry dat Interpol op hul spoor is. Hulle het hul toe in Lilongwe aan die polisie oorgegee en is in hegtenis geneem.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Donderdag gesê die regering het opdrag gegee die nodige dokumente moet binne twee weke aan Malawi beskikbaar gestel word.

Meer oor:  Shepherd Bushiri
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.