Die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, het ’n interdik van die hooggeregshof in Malawi bekom wat die polisie en die direkteur van openbare vervolging verhinder om hulle in hegtenis te neem.
Die bevel is op 21 Februarie aan die egpaar toegestaan. “Ek het wel ’n dringende interdik gekry omdat die polisie hulle wou arresteer, wat minagting van ’n vroeëre hofbevel sou wees,” het Wapona Kita, advokaat van die Bushiri-egpaar, Maandag aan News24 verduidelik.
’n Hersiening van die hofbevel word op 8 Maart aangehoor. Volgens Kita is die dogters van die egpaar ook onlangs verhinder om Malawi te verlaat. Die dogters, saam met ’n oppasser, wou na Kenia vlieg om toegang tot mediese sorg te kry.

Die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary. Foto: Instagram
Kita het gesê dat hulle nie Malawi kon verlaat nie.
“Die staat het tot dusver nie enige rede daarvoor gegee nie,” het hy gesê.
Kita het vroeër aan News24 gesê dat die egpaar “gereed is en gretig wag vir die uitleweringsprosesse om te begin”.
Die Bushiri’s het verlede jaar onder raaiselagtige omstandighede na Malawi, hul tuisland, gevlug omdat hulle glo vir hul veiligheid vrees. Die egpaar staan in Suid-Afrika tereg op aanklagte van bedrog en geldwassery. - News24