Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Cabo Delgado-vergadering 'lewer niks positief op'

Dit was nóg ’n hoëvlakvergadering van leiers in Suider-Afrika wat hulle nie ’n enkele stap nader aan ’n positiewe uitkoms vir die geweldgeteisterde Cabo Delgado-provinsie van Mosambiek gebring het nie.

Só het prof. Theo Neethling, ’n Afrika-kenner van die Universiteit van die Vrystaat, Vrydag gesê ná die vergadering wat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se veiligheidsgroepering Donderdag in Maputo met Mosambiek se pres. Filipe Nyusi gehad het.

Die SAOG en Mosambiek het ná die vergadering geen aanduiding gegee van die moontlike betrokkenheid van ’n ingrypingsmag van die SAOG in Cabo Delgado nie.

Moslem-militante voer die laaste vier jaar ’n skrikbewind in dié gas- en olieryke provinsie wat in die noorde van die land aan Tanzanië grens.

“Dit is duidelik daar is by pres. Nyusi steeds ’n onwilligheid om buitelandse betrokkenheid te aanvaar,” sê Neethling.

Pres. Cyril Ramaphosa (links) praat Donderdag in Maputo met Zimbabwe se pres. Emmerson Mnangagwa. Foto: GCIS

Nyusi het dit al in die verlede duidelik gemaak dat hoewel Mosambiek dankbaar is vir die hulp wat die SAOG aanbied, is hy nie bereid om Mosambiek se soewereiniteit in gevaar te stel nie.

Talle kenners meen ook ’n politieke oplossing eerder as militêre ingryping is die antwoord.

Reuters het vroeër berig die Suider-Afrikaanse leiers het op die vergadering gesê hulle sal met Mosambiek saamwerk om sy veiligheidsmagte te steun in sy stryd teen die Moslem-ekstremiste wat die steun van Isis geniet.

Donderdag se vergadering is gelei deur Botswana se pres. Mokgweetsi Masisi, voorsitter van die veiligheidsgroepering.

Suid-Afrika, Zimbabwe, Malawi en Tanzanië is ook lid van die veiligheidsgroepering.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook die vergadering bygewoon.

’n Buitengewone leiersberaad van dié groepering sal wel op 20 Junie in Mosambiek gehou word.

Die SAOG het vroeër ’n ingrypingsmag voorgestel om Mosambiek te help en te keer dat die terreur na ander lande in die streek oorspoel.

Nyusi het ná die vergadering gesê die Suider-Afrikaanse leiers het nou ’n beter idee van die “tasbare stappe” wat gedoen moet word om die geweldpleging te beëindig.

Neethling sê ’n risiko-ontleder in Maputo het aan hom gesê daar is “chaos in Cabo Delgado”.

Hy sê gerugte van korrupsie, en spesifiek omkopery onder staatsamptenare in die noordelike dele, neem toe omdat staatsamptenare verminderde salarisse ontvang en hul inkomste onwettig aanvul.

“Die humanitêre situasie in die provinsie versleg steeds. Daarby het Total van sy gasinstallasies afgebreek. Dit beteken dat moontlike gasontwikkeling met nog jare uitgestel kan word.

“Dit alles sal ’n buitengewone poging verg om die noordelike dele van die land weer te stabiliseer en onder ordelike regering te plaas waar ’n groot belegger soos Total sy werksaamhede sal kan hervat.

“Kortom, ’n provinsie met die potensiaal om ekonomies baie welvarend te wees, is in chaos gedompel,” sê Neethling.

Meer oor:  Theo Neethling  |  Cabo Delgado  |  Geweld  |  Vergadering  |  Kenner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.