Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Chauvinisme steeds probleem in Aussies se parlement

Australië se Liberale Party is verdeeld oor hoe om sy aantal vroueverteenwoordigers in die parlement te vermeerder.

Scott Morrison, wat die leierskap van die party en die premierskap van Australië by Malcolm Turnbull oorgeneem het, is nie ’n voorstander van kwotas nie.

“Natuurlik wil ek graag hê meer vroue moet in die parlement dien. Maar ek is ’n voorstander van meriete,” het hy volgens ABC, die Australiese uitsaaidiens, gesê.

Julie Bishop, die voormalige minister van buitelandse sake, was ’n gunsteling om die voormalige premier, Malcolm Turnbull (regs), op te volg. Foto: Getty Images

Vroueverteenwoordiging in die parlement het ’n knou weg ná die bedanking van Julie Bishop, voormalige minister van buitelandse sake, wat ’n gunsteling was om Turnbull op te volg.

Bishop het die “verskriklike gedrag” wat sy in die parlement gesien het, veroordeel en haar eie party gekritiseer omdat hy nie vroue lok nie, berig New York Times.

“Dit is duidelik dat ’n sekere vlak van gedrag in Canberra aanvaar word, wat nie in enige ander werkplek in Australië geduld sal word nie,” het sy gesê.

Bishop het gesê dit is die tipe gedrag wat sy 20 jaar gelede al – toe sy ’n besturende vennoot van ’n regsfirma met 200 werknemers was – nooit sou aanvaar het nie.

Huidige en voormalige vrouelede van die Australiese parlement kla dat sommige van hul manlike kollegas meer daarin belangstel om kommentaar op hul haarstyle of kleredrag te lewer as om beleidsake met hulle te bespreek.

Een vrou is glo gevra of sy die politiek betree het om ’n man te vang. Nog een is gekoggel oor haar voorkoms en aangeraai om haar eerder by breiwerk te bepaal.

Vroue kla ook dat manlike wetgewers hulle in hul toesprake bykom en selfs vir hulle soentjies blaas.

Julia Gillard, ’n voormalige premier, het ses jaar gelede al in ’n toespraak die kollig gevestig op die seksistiese politieke kultuur in die land en teen die diepgewortelde vrouehaat in die politiek uitgevaar.

The Financial Times het berig dat haar toespraak aanvanklik in Australië geïgnoreer is, maar dat dit oor die wêreld heen soos ’n veldbrand versprei het en lof van vroue in die politiek ontlok het.

Sarah Maddison, medeprofessor in die politiek aan die Universiteit van Melbourne, het daarop gewys dat die land se parlement as geheel – en die konserwatiewe groep in die besonder – ’n geslote mansklub bly wat ’n baie vyandige omgewing vir vroue kan wees.

“Ek kan nie aan ’n meer onverwelkomende werkplek dink nie.”

Volgens die internasionale interparlementêre vereniging se statistieke vir 2018 beklee Australië met 28,7% die 50ste plek in terme van vroueverteenwoordiging in ’n nasionale parlement. Die wêreld gemiddeld is 23,8%.

Rwanda het die hoogste vroueverteenwoordiging met 61,3 persent. Suid-Afrika beklee die tiende plek met 35,2%.

Meer oor:  Scott Morrison  |  Malcolm Thom  |  Julie Bishop  |  Australië  |  Wêreldpolitiek  |  Chauvinisme  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.