Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Christchurch: ‘Lê ergste straf op’
Brenton Tarrant gister in die hof in Christchurch, Nieu-Seeland.Foto: Reuters

Die families van die 51 mense wat Brenton Tarrant by twee moskees in Nieu-Seeland doodgeskiet is, vra die regter om hom die swaarste straf moontlik, lewenslange tronkstraf sonder parool, op te lê omdat hy geen berou toon nie.

Dinsdag op die tweede dag van sy vonnisverhoor in Christchurch het dit trouens gelyk asof hy vir een van die oorlewendes glimlag.

Mirwais Waziri, wat in die aanval in 2019 op die Al Noor-moskee in Christchurch gewond is, het sy voorbereide hofverklaring neergesit en die witheerssugtige regstreeks aangespreek nadat hy gesien het hy het “geen berou nie, geen skaamte in sy oë nie”. “Hy toon geen berou oor enigiets nie,” het Waziri gesê.

“Vandag word jy ’n terroris genoem en jy het aan die wêreld bewys dat ons Moslems nie terroriste is nie.

“Ek sê aan die mense van Nieu-Seeland dat terroriste geen godsdiens, ras of kleur het nie,” het Waziri gesê.

Applous het vanuit die openbare galery opgeklink.

Nathan Smith, oorspronklik van Brittanje en ook ’n oorlewende van die Al Noor-moskeeskietery, het Tarrant ook regstreeks aangespreek.

Skerpskutters van die polisie op die dak van die hofgebou waar die Tarrant verhoor word. Foto: Getty Images
Wasseim Daragmih: “Jy het heeltemal misluk.”Foto: reuters
Mirwais Waziri: “Jy het aan die wêreld bewys dat ons Moslems nie terroriste is nie.”Foto: GETTY
Nathan Smith: “Miskien moet jy die Koran lees. Dit is pragtig.” Foto: reuters

“As jy ’n vry minuut kry, waarvan jy baie sal hê . . . Snaaks, nè? Baie snaaks. Miskien moet jy die Koran lees. Dit is pragtig,” het hy gesê en op Tarrant se oënskynlike glimlag gereageer.

Wasseim Daragmih, wat beseer is in die aanval, het gesê Tarrant het nié daarin geslaag om die gemeenskap te vernietig en hul geloof te skud nie. “Jy het veroorsaak dat ons nader aan mekaar is. So, jy het heeltemal misluk.”

Tarrant, ’n 29-jarige Australiër, word vandeesweek gevonnis nadat hy skuld beken het op 51 klagte van moord, 40 van poging tot moord en een klag van die uitvoering van ’n terroristedaad tydens die wilde skietery in Christchurch wat hy regstreeks op Facebook gestroom het. Aanklaers het aan die hof gesê Tarrant het die aanvalle beplan om ’n bloedbad te veroorsaak deur kragtige wapens en ammunisie te versamel, by skietklubs te oefen en die uitleg van moskees te bestudeer.

’n Verpligte vonnis van lewenslange tronkstraf word in Nieu-Seeland opgelê ná ’n skuldigbevinding aan moord.

Die regter kan ook ’n vonnis van lewenslange tronkstraf sonder parool oplê, maar dit is nog nooit gedoen nie.

Die tweede dag van die vonnisverhoor is afgestaan aan oorlewendes en familielede van slagoffers wat toegelaat is om die hof toe te spreek.

Tarrant, wat homself verteenwoordig, sal op ’n sekere tydstip tydens die verhoor toegelaat word om te praat, hoewel regter Cameron Mander die mag het om te verseker dat die hooggeregshof nie gebruik word as platform vir ekstremistiese ideologie nie.

Die meeste van Tarrant se slagoffers was in die Al Noor-moskee. Hy het ook sewe mense in die Linwood-moskee doodgeskiet en was op pad na ’n derde moskee toe hy in hegtenis geneem is.

Angela Armstrong, die dogter van die 65-jarige Linda Armstrong, wat by die Linwood-moskee doodgeskiet is, het Tarrant gedaag om sy lewe in die tronk te gebruik om na te dink oor die mooiheid van diversiteit en die vryheid wat hy wou vernietig.

“Hoewel ek jou ma baie jammer kry, het ek geen emosie teenoor jou nie. Jy is niks nie,” het sy gesê.

“Terwyl hy in ’n hok vasgevang sal bly, is my ma vry. Daarom daag ek Tarrant om die res van sy lewe te gebruik om na te dink oor die mooiheid en lewe wat in diver­siteit en vryheid gevind word wat hy gekies het om te verwring en te vernietig.”

Die verhoor word vandag voortgesit.– Reuters

Meer oor:  Christchurch  |  Brenton Tarrant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.