Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Christchurch: Polisie vang vermeende skieter voor SA vrou

“Dit was soos ’n episode uit ’n misdaadreeks,” sê ’n Suid-Afrikaner, nadat swaar gewapende polisiebeamptes etlike meter van haar af op een van die vermeende skieters in die moskee-aanval in Christchurch toegesak het.

Minstens 49 mense is Vrydagmiddag (Nieu-Seelandse tyd) in ’n skietery in twee moskees in die stad dood.

Vier mense is in hegtenis geneem.

Annett Boshoff (53) woon al 14 jaar saam met haar man, Daniël, en hul drie kinders in Nieu-Seeland. Die gesin woon die laaste vyf jaar in Christchurch.

Boshoff, bestuurder van die Nazareth House-aftreeoord in die stad, het ná werk pas in die pad voor die oord ingedraai, toe ’n “grys motor voor my indruk.

“Ek het onlangs ’n nuwe kar gekry. Al wat ek in daardie stadium gedink het, is dat hy tog net nie my kar moet stamp nie!”

Annett Boshoff (53)Foto: Verskaf

Sy het die polisie met loeiende sirenes hoor aankom en aangeneem die man het uitgeswaai om uit die polisie se pad te kom. Hy het nie juis vinnig gery nie, so sy het nie gedink hy probeer wegjaag nie.

“Die volgende oomblik stamp die polisiekar die grys kar uit die baan uit. Ons het albei in die linkerbaan gery. Die polisie het die grys kar tot op die sypaadjie aan die linkerkant gestamp. Die wiele het aan die een kant oorgehang en nog gedraai.”

Boshoff het haar motor in trurat gesit en na veiligheid gery.

Toe spring twee swaar gewapende polisiebeamptes uit, sê sy.

“Die een spring op die masjienkap en probeer die windskerm met sy wapen uitslaan. Die ander een het die kar se kattebak oopgemaak. Dit het gelyk asof hy dalk die kar deur die bak wou binnegaan, maar daarteen besluit het. Ek dink hulle was bang vir bomme.”

Die polisiebeampte beweeg toe na die deur aan die passasierskant, sê sy.

“Hy het die deur oopgepluk, die gewere wat op die passasiersitplek gelê het op die sypaadjie gegooi en die man oor die passasiersitplek uit die kar tot op die sypaadjie getrek. Dit het gelyk of die man nie meer lekker by is nie.”

Sy onthou die blonde man het ’n kamoefleerdragbroek, valhelm en ’n koeëlvaste baadjie aangehad.

“Hulle het hom op sy rug op die sypaadjie laat lê en hom met die kolf van een van die gewere in die bors gestamp. Toe draai hulle hom op sy maag en boei hom agter sy rug.”

Boshoff sê in daardie stadium is die verkeer herlei en moes sy aanry, maar sy was so geskok, sy het ’n ent verder afgetrek en in haar truspieëltjie die situasie verder dopgehou. Sy was egter nie meer daar toe die man in die polisievangwa gelaai is nie.

“Die skietery is so traumaties. Nieu-Seeland is ’n vreedsame land, ek kan nie dink dat so iets kon gebeur nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.