Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Christchurch-vonnisverhoor: Die wat oorleef vertel

Naasbestaandes van die 51 mense wat in 2019 by twee moskees in Christchurch,Nieu-Seeland, afgemaai is, het Maandag in die hof vertel watter impak die aanval op hul lewe gehad het.

Brenton Tarrant (29), wat ná die aanval skuld beken het op 51 aanklagte van moord, 40 van poging tot moord en een van terrorisme, word deur lewenslange tronkstraf sonder die moontlikheid van parool in die gesig gestaar – ’n eerste vir Nieu-Seeland.

Tarrant het op die eerste oggend van sy vonnisverhoor meestal met gevoude arms gesit. Hy het weinig emosie getoon en stip na diegene gekyk wat die slagoffers se impakverklarings gelees het.

Regstreekse verslaggewing uit die hof is verbied, en daar is ook beperkings op dit waaroor die media mag berig.

Brenton Tarrant Foto: AP

Die ma van Ata Elayyan, wat in die skietery dood is, het aan die hof gesê dat die verlies van haar seun was soos om weer geboorte te gee.

Maysoon Salama het gesê dat sy gedurig wonder wat haar seun in sy laaste oomblikke gedink het voordat hy “net gewapen met moed” in die Al Noor-moskee doodgeskiet is.

“Ek kan jou nie vergewe nie, jy het jouself die reg toegeëien om 51 mense se lewe te neem. Ons enigste misdaad in jou oë is dat ons Moslems is,” het sy gesê.

Gamal Fouda, imam van die Al Noor-moskee, het aan Tarrant gesê hy is “mislei”.

“Ek kan aan sy familie sê dat hulle ’n seun verloor het en dat ons baie uit ons gemeenskap verloor het. Hulle ly ook soos ons,” het Fouda gesê.

Barnaby Hawes, die aanklaer, het gesê Tarrant het ná sy inhegtenisneming aan die polisie gesê hy wil vrees onder die Moslem-bevolking aanwakker.

Hy het ook sy spyt uitgespreek omdat dat hy nie meer lewens geneem het nie en wou die moskees ná die skietery afbrand, het Hawes gesê.

“Hy was van plan om vrees te skep onder diegene wat hy as indringers bestempel. Dit sluit die Moslem-bevolking en nie-Europese immigrante in,” het Hawes gesê.

Tarrant het “doelgerig twee skote” op Mucaad Ibrahim (3) geskiet wat aan sy pa se been vasgeklou het, het Hawes gesê. Mucaad was die jongste slagoffer in die skietery.

Tarrant het jare lank vuurwapens gekoop, die uitleg van die moskee met ’n hommeltuig bestudeer en die aanvalle so beplan dat hy soveel as moontlik lewens kon neem, het die aanklaer gesê.

Terwyl die meeste van die slagoffers in die Al Noor-moskee was, het hy ’n tweede moskee aangeval voordat hy op pad na ’n derde een in hegtenis geneem is.

Regter Cameron Mander het gesê dat hy meer as 200 impakverklarings van slagoffers ontvang het en dat almal gelees is.

Hy het gesê hy sal Tarrant nie voor Donderdag vonnis nie, sodat die oorlewendes en familielede van die slagoffers die geleentheid kry om die hof toe te spreek. – Reuters


Meer oor:  Brenton Tarrant  |  Nieu-Seeland  |  Moskee-Aanval  |  Christchurch  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.