Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Cites moet ontbind – versoekskrif

Meer as 2 600 mense het die laaste paar dae ’n versoekskrif onderteken dat die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) vervang word met ’n bewaringsorganisasie wat “werklik vir bedreigde wild en plante omgee”.

Die aanlyn versoekskrif lui: “Ons, die mense van die wêreld, stel hiermee ’n mosie van wantroue in teen Cites en versoek dat dié organisasie vervang word deur ’n nieregeringsorganisasie (NRO) wat ’n gevestigde belang het by die welsyn van bedreigde spesies.”

Die versoekskrif spruit uit ontevredenheid onder omgewingsgroepe oor uitvoerpermitte wat onder die vaandel van Cites uitgereik is vir die vang en verkoop van olifantkalwers in die Hwange Nasionale Park in Zimbabwe en omdat Cites die geblikte-leeubedryf in Suid-Afrika steun.

Cites keur ook die uitvoer van leeubeendere na die Ooste goed.

Luidens die versoekskrif het die wêreld sedert Cites se stigting in 1975 meer as die helfte van sy wildlewe verloor. “Dié feit is ’n bewys van ’n gebroke stelsel wat oudmodies is vir ’n oorbevolkte planeet en die natuur (plante en wilde diere) wat ’n oorlewingstryd voer.”

Cites kon nog nie op die veldtog reageer nie omdat die opstellers 100 000 handtekeninge wil hê voordat dit aan die konvensie oorhandig word.

Die vang van olifantkalwers in hul familietroppe in Zimbabwe en die feit dat hulle na Chinese dieretuine en pretparke gestuur is, het skokgolwe deur die wêreld gestuur.

Meer as 100 olifantkalwers is sedert 2012 in Hwange gevang en uitgevoer. Luidens die versoekskrif word daar in geen Cites-permit ooit melding gemaak van die omstandighede by die diere se bestemming nie.

In Cites se grondwet word uitdruklik gesê partye wat betrokke is by die onwettige uitvoer van fauna of flora sal vervolg word en die diere sal teruggeneem word na hul bestemming. Die omgewingsgroepe beskuldig Cites daarvan dat hy nie sy mandaat uitvoer nie en dat korrupsie moontlik betrokke is by die uitvoer van Zimbabwe se olifante.

Tinashe Farawo sê op Twitter Zimbabwe sukkel met ’n oorbevolking van olifante.

In die versoekskrif word gesê die diere word in “onmenslike omstandighede” in betonhokke aangehou.

Die “mense van die wêreld” vra ook dat trofeejag stopgesit moet word omdat dit die voortbestaan van bedreigde spesies op die spel plaas. Volgens die opstellers het navorsing gewys net 3% van alle geld wat betaal word om trofeediere te jag, word in plaaslike gemeenskappe en bewaring geploeg.

Die opstellers dring ook daarop aan dat die uitvoer van leeubeendere van Suid-Afrika na die Ooste, wat in 2016 deur Cites goedgekeur is, stopgesit word. Hulle bestempel dit as ’n “wrede en onetiese bedryf wat smokkelhandel stimuleer”.

Van die ondertekenaars skryf Cites het die bewaringswêreld in die steek gelaat en in ’n handelsorganisasie ontaard. Hulle eis dat Cites onmiddellik ontbind.

Cites kon nog nie op die veldtog reageer nie omdat die opstellers 100 000 handtekeninge wil hê voordat dit aan die konvensie oorhandig word.

Meer oor:  Cites  |  Bewaring  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.