Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Costa Cruises gryp in ná stukkies ham, kaas vir SA’ners
Nog een van die karige etes wat die gestrande Suid-Afrikaners in ’n hotel in Rome gekry het. Foto: Verskaf

Nadat hulle Donderdag net twee snytjies ham en kaas en ’n bottel water vir aandete gekry het, sê Suid-Afrikaners in ’n hotel in Rome die hotelbestuur en Costa Cruises het intussen ingespring om beter na hulle om te sien.

Sowat 15 Suid-Afrikaners wat op die Costa Pacifica-plesierskip was, bly in die Hotel Roma Tuscolana San Giorgio in Rome nadat hulle Woensdag van die skip afgeklim het.

Die res van die 168 Suid-Afrikaners wat op die skip was, kon huis toe kom, maar daar was nie genoeg plek op die vliegtuig vir die hele groep nie.

Debbi Windell (48), een van die Suid-Afrikaners wat agtergebly het, het Vrydagaand ’n e-pos na Costa, die Suid-Afrikaanse reisagentskap Imagine Cruising en die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) gestuur.

Verskeie kwessies word in die e-pos uitgelig, soos dat die mense tot hul klein hotelkamers beperk word, dat hulle karige etes kry en dat sommige van hulle chroniese medikasie nodig het.

Windell het Maandag aan Netwerk24 gesê die hotel probeer hulle intussen bystaan.

gestrand
Die hotel in Rome waar die gestrande Suid-Afrikaners bly, het intussen onderneem om iets te doen aan die etes soos hierdie. Foto: Verskaf
Hulle mag  nou vars lug kry

“Ons mag nou twee mense op ’n slag na die binnehof uitgaan vir vars lug en sonskyn. Hulle het aangebied om vir ons tandepasta, ander toiletware en vitamienaanvullings te kry waarmee ons met ons kredietkaarte kan betaal,” sê sy.

Volgens Windell is daar ook ’n verteenwoordiger van Costa wat hulle daagliks besoek en onderneem het om te help om chroniese medikasie vir sommige van hulle te kry.

“Ons word nou goed behandel en hulle probeer ons so gemaklik as moontlik maak.”

Hulle het egter nog geen aanduiding van wanneer hulle kan terugkeer nie.

Intussen is 48 Suid-Afrikaners wat op die Costa Luminosa was, al sewe dae in kwarantyn in die iH Hotels Roma Z3 in Rome.

Vier passasiers wat vroeër van dié plesierskip afgeklim het, is positief vir Covid-19 getoets. Een van hulle is intussen dood.

Volgens Susan van Tonder (58), wat saam met haar man, Hendry (64), op dié skip was, het hulle nog geen benul wat vir hulle voorlê wanneer die kwarantyn-tydperk verby is nie.

“Ek is nou te uitgeput om hulp te vra. Ons enigste hulp kom nou van God ons Vader,” sê sy.

Die Suid-Afrikaanse ambassade in Rome het Netwerk24 se navraag na Dirco verwys, wat nie gereageer het nie.

Costa is jammer

Nadat Costa Vrydag bloot aan Netwerk24 gesê het dat hy aan die kwessie werk, het hy Maandag verskoning gevra vir die swak diens en gesê stappe is gedoen om dit reg te stel.

“Warm etes word nou verskaf en die kamers is met noodsaaklike produkte vir persoonlike sorg toegerus. Mediese bystand is nog altyd deurlopend aangebied en is onlangs verbeter.”

Costa sê die repatriasie van sowat 25 000 passasiers op Costa-plesierskepe is deur verskeie reisbeperkings bemoeilik.

“Die Suid-Afrikaanse gaste is steeds in hotelverblyf in Rome omdat geen vlugte beskikbaar is om hulle huis toe te neem nie. Ons werk saam met die Italiaanse owerhede en die Suid-Afrikaanse ambassade in Italië hieraan.”

Meer oor:  Rome  |  Gestrand  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.