Europa is diep in ’n tweede vlaag van die koronavirus-pandemie, volgens die president van die Europese kommissie, Ursula von der Leyen.
Daar is ’n daaglikse styging in nuwe gevalle van die Covid-19-virussiekte en is daar Woensdag vir die eerste keer meer as ’n halfmiljoen nuwe gevalle wêreldwyd aangemeld.
Binne twee weke het die daaglikse gevalle wêreldwyd met bykans 25% toegeneem.

Ursula Von Der Leyen, president van die Europese Kommissie, Donderdag op ’n nuuskonferensie na afloop van ’n virtuele vergadering van Europese leiers om die Covid-19-krisis te bespreek. Foto: Reuters
Teen Vrydagoggend was daar volgens die gesaghebbende Johns Hopkins-koronavirushulpbronnesentrum 45 028 250 kumulatiewe gevalle wêreldwyd en 1 181 075 sterftes.
Europa se daaglikse infeksiekoers het oor die afgelope twee weke verdubbel en Woensdag is daar vir die eerste keer meer as 250 000 gevalle aangemeld.
Frankryk, wat om middernag ’n streng inperkingstydperk begin het, het Donderdag 47 637 nuwe gevalle aangekondig teenoor die vorige dag se 36 437 se nuwe gevalle, berig BBC.
Ingevolge die maatreëls wat pres. Emmanuel Macron Woensdag aangekondig het, word mense verbied om hul huise te verlaat, tensy dit vir kos of ander noodsaaklikhede is.
In Duitsland is daar Donderdag 89 sterftes en 16 774 nuwe gevalle aangemeld. Hier geld ’n inperking vir minstens die volgende maand.
Die Belgiese regering sal na verwagting Vrydag vergader oor die moontlikheid van strenger maatreëls.
Die land het tans die hoogste infeksiekoers in die Europese Unie en bykans net soveel Covid-19-pasiënte in hospitale soos tydens die eerste vlaag in April.
In Italië, waar daar ook hierdie week ’n rekordgetal van 24 991 nuwe gevalle in ’n dag aangemeld is, het die regering Maandag aangekondig restaurante, gimnasiums en kroeë moet teen 18:00 sluit.
In Griekeland word inperkingsmaatreëls na nóg streke uitgebrei en geld nou in sewe streke. – Reuters

’n Gesondheidswerker van die MontLegia CHC-kliniek in Liege, België, het Donderdag aan ’n betoging deelgeneem om te eis dat die regering aandag gee aan personeeltekorte in hospitale. Foto: Reuters