Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Covid-19: So gaan dit in die buiteland

Indië nou land met tweede meeste virusgevalle

Indië het 168 912 nuwe koronavirusgevalle aangemeld.

Die gesondheidsministerie se jongste data, wat Maandag uitgereik is, bevestig Indië is naas Amerika die land met die meeste Covid-19-gevalle ter wêreld. Indië het dus nou vir Brasilië verbygesteek. 

Daar is reeds 13,53 miljoen kumulatiewe gevalle in die land aangemeld, terwyl Brasilië 13,45 miljoen gevalle het, luidens Reuters se syfers.

Altesaam 904 nuwe sterftes is Indië aangemeld. Dit bring die dodetal op 170 179 te staan. Amerika het 31,2 miljoen kumulatiewe gevalle.

In ander buitelandse verwikkelinge:

China meen meng van entstowwe kan werk

China se sentrum vir siektebeheer en -voorkom het Saterdag aangekondig hy oorweeg dit amptelik om Covid-19-entstowwe te meng in 'n poging om die effektiwiteit van die inentings 'n hupstoot te gee.

Gao Fu, die sentrum se direkteur, sê die meng van verskillende samestellings in inentings is ’n poging om die entstowwe te versterk en te verbeter.

Geen gespesifiseerde data oor die entstof is al deur China se Sinopharm uitgereik nie.

Volgens Reuters het die maatskappy al twee entstowwe ontwikkel wat volgens studies op tuisbodem onderskeidelik 79,4% en 72,5% doeltreffend is.

Fu het mediaberigte dat die entstowwe se doeltreffendheid laag is, afgemaak en dit as ’n totale misverstand beskryf.

“Tans dui die data op hoë en lae effektiwiteit,” sê Fu.

“Die enigste manier om enige entstowwe te verbeter hang van die navorsing van wetenskaplikes wêreldwyd af.

“Ek het reeds voorgestel dat die meng van verskillende samestellings wêreldwyd nagevors moet word.”

China se CoronaVac 50% doeltreffend

China se gemengde CoronaVac-entstof is sowat 50% doeltreffend, het ’n studie getoon wat in Brasilië gedoen is.

Reuters berig die entstof, wat eers deur die land se pres. Jair Bolsonaro afgesweer is, is tans die mees verspreide entstof in dié Suid-Amerikaanse land.

Brasilië is op ’n globale vlak een van die episentrums van die koronavirus-pandemie en het in die afgelope week meer as 37 000 nuwe gevalle van die virus aangeteken en meer as 353 000 sterftes.

Die Butantan- biomediese instituut in Sao Paulo het Sondag bevestig sy studies het getoon dat die CoronaVac-entmiddel, vervaardig deur die Chinese maatskappy Sinovac Biotech Ltd., 50,7% effektief is teen die P1-variant van die virus wat wyd deur die land versprei en ’n minder algemene P2-variant.

Butantan het ook bevind as die tweede inspuiting van die entstof eers twee weke ná die eerste inspuiting gegee word, styg die effektiwiteit van die entstof tot 62,3%. Mense wat die entstof ontvang en wel die virus opdoen, het ’n kans van tussen 83,7% en 100% om nie mediese sorg nodig te hê nie.

Meer as 3 miljoen inentings in Amerika op 1 dag

Amerika het teen Sondag reeds 187 047 131 dosisse entstof toegedien en reeds 237 796 105 dosisse versprei.

Volgens die sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) is meer as 3 miljoen inentings op een dag gedoen.

Meer as 19 miljoen mense in die land het reeds die eerste inenting ontvang en meer as 72 miljoen het reeds twee dosisse entstof ontvang, wat beteken hulle is ten volle ingeënt.

Amerika maak gebruik van die tweeledige Moderna- en Pfizer-BioNTech-entstof, asook die Johnson & Johnson-entstof.

Australië hersien sy inentingsteiken

Australië het sy doelwit om die hele land van meer as 26 miljoen inwoners teen die einde van 2021 in te ent, laat vaar.

Dié besluit kom nadat wetenskaplikes in Canberra geraadpleeg is en gevind is dat mense onder 50 jaar eerder Pfizer se entstof moet kry as dié van AstraZeneca.

Die land het verlede week sy aankope van die Pfizer-entstof verdubbel met die doel om die hele land teen einde Oktober ingeënt te hê.

Scott Morrison, premier, het Sondagmiddag gesê die land het geen plan om nuwe doelwitte rondom sy inentingsprogramme te stel nie.

“Hoewel ons aanvanklik wou hê dat inentings voor die einde van die jaar afgehandel word, is dit nie moontlik om sulke groot doelwitte te stel met al die onsekerhede in ag geneem nie,” sê Morrison.

Australië het as gevolg van sy lae infeksiesyfers eers heelwat later as ander lande met sy inentingsprogramme begin.

Die land het net onder 29 400 positiewe gevalle en 909 sterftes sedert die begin van die pandemie aangeteken.

Meer oor:  Indie  |  China  |  Buiteland  |  Entstowwe  |  Covid-19-Variante  |  3De Vlaag  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.