Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Covid-19: 315 000 nuwe gevalle in Indië

Tekort aan ventilators, suurstof in Indië

Die tekort aan suurstof vir ventilators het Woensdag tot die dood van minstens 24 Covid-19-pasiënte in die weste van Indië gelei.

Die tekortkoming kom te midde van ’n skerp styging in die land se infeksiekoers.

Die gesondheidsowerhede het die sterftes by ’n hospitaal in die stad Nashik bevestig en die hospitaal se tekort aan suurstof aan ’n lekkasie in ’n suurstoftenk toegeskryf.

Hospitale in die hoofstad, Nieu-Delhi, en elders het ook gewaarsku hul suurstofvoorraad, wat gebruik word om Covid-19-pasiënte te behandel wat ernstig siek is, is ook op sy laagste. Die grootste privaat gesondheidsdiensverskaffer in Nieu-Delhi en sy woonbuurte sê van hul hospitale het skaars twee uur se suurstof beskikbaar.

Lang toue mense word gesien by fasiliteite waar suurstoftenks hervul kan word, terwyl daar ook ’n poging was om ’n suurstoftenk te stroop.

Narendra Modi, Indië se premier, wat onder fel kritiek deurloop oor sy hantering van die pandemie, het Dinsdag op ’n nuuskonferensie te kenne gegee Indië gaan onder ’n “koronavirus-storm” gebuk wat die gesondheidstelsel oorweldig. Modi sê daar word ook met die regering en private firmas saamgewerk om suurstof spoedig te kan aflewer.

Die land het Woensdag ’n verdere 295 041 nuwe virusgevalle aangemeld.

Nog ’n rede tot kommer is dat die Serum-instituut in Indië, vervaardiger van die AstraZeneca-Covid-19-entstof, sê hul maandelikse produksie van die entstof sal eers teen Julie tot 100 miljoen dosisse verhoog word teenoor die huidige 60 tot 70 miljoen dosisse. Aanvanklik is voorsien dat die verhoging in produksie teen einde Mei sou realiseer. – Reuters

’n Ma en haar kinders wag vir ’n bus in Ghaziabad aan die buitewyke van Nieu-Delhi, Indië, nadat die regering Maandag ’n streng inperking aangekondig het. Foto: Reuters
Griekeland wag op groen lig vir J&J-entstof

Griekeland beoog om op 5 Mei met inentings van Johnson & Johnson (J&J) se Covid-19-entstof te begin.

Die land sou reeds Maandag die J&J-entstof begin gebruik het, maar dis vir eers opgeskort nadat vrae opgeduik het oor die moontlike verband tussen die ontstaan van bloedklonte en die J&J-entstof.

Marios Themistocleous, sekretaris-generaal in beheer van inentings, sê hulle verwag teen Vrydag ’n besluit van die sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC), asook die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-administrasie (FDA) en dan van hul nasionale komitee, waarna inentings op 5 Mei sal begin.

Griekeland mik om sowat 2,5 miljoen mense in Mei in te ent en in Junie ’n verdere 4 miljoen. Inentings sal ook oor naweke gedoen word om die proses te bespoedig, en dit sal ook by privaat klinieke beskikbaar wees.

Die AstraZeneca-entstof sal van 27 April vir mense tussen die ouderdom van 30 en 39 jaar beskikbaar wees. – Reuters

1ste entstof in Sirië

Die eerste besending entstof wat deur middel van die internasionale Covax-entstofprogram gelewer word, het Woensdag in die noordweste van Sirië aangekom.

’n Totaal van 54 000 dosisse van die AstraZeneca-entstof is ontvang, met inentings wat na verwagting op 1 Mei sal begin. Mediese en humanitêre werkers, mense ouer as 60 jaar en diegene met chroniese siektes sal voorkeur kry.

Nog twee aflewerings van entstof word deur die jaar verwag om die sowat 850 000 inwoners van noordwes-Sirië in te ent.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê met die inentings wat teen Mei in Sirië sal begin, word beoog om teen die einde van jaar byna 20% of sowat 5 miljoen mense van Sirië se bevolking in te ent in albei staatsbeheerde gebiede, asook die noordooste en noordweste.

Sirië het reeds skerp stygings in gevalle ervaar, eers in Augustus en Desember en toe weer verlede maand. – Reuters

60 000 sterftes in Argentinië

Die dodetal weens Covid-19 in Argentinië het die 60 000-kerf verbygesteek.

Altesaam 291 nuwe sterftes is Woensdag aangeteken en die land se dodetal staan nou op 60 083.

Die land, wat hul inentingsprogram grootliks rondom Rusland se Sputnik V-entstof beplan, het tot dusver 2,77 miljoen virusgevalle aangemeld.

Carla Vizzotti, gesondheidsminister, sê die land gaan tans deur sy ergste oomblik in die pandemie tot nog toe en waarsku dat hul gesondheidstelsel in gevaar is, vernaamlik in die Argentynse hoofstad, Buenos Aires, waar inperkingsregulasies reeds verskerp is. Sy sê verder sien die land ook ’n styging in nuwe variante van die virus, wat teen ’n skerp koers deur die land versprei.

Intussen het gesondheidswerkers vir beter salarisse begin betoog. – Reuters

Meer oor:  Gesondheid  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Indië  |  Buiteland  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.