Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Covid-paspoorte plaas demper op Europese somervakansie
Foto ter illustrasie.Foto: AP

Die chaos en verwarring wat heers oor nuwe regulasies om Covid-19-variante te bekamp plaas ’n demper op vooruitsigte van ’n Europese somervakansie in ’n reeds beleërde toerismebedryf.

Associated Press berig toeriste in Frankryk is die afgelope week met ’n nuwe vereiste vir toegang tot kulturele en ander besienswaardighede gekonfronteer: ’n spesiale Covid-19 paspoort.

Om dié paspoort, wat op papier of digitale vorm beskikbaar is, te kry, moet toeriste aan owerhede bewys dat hulle ’n volledige inenting teen die virussiekte ontvang het of dat hulle onlangs van die infeksie herstel of negatief daarvoor getoets het.

Die vereiste van so ’n paspoort kan moontlik aanstaande maand ook na restaurante en kafees uitbrei.

Italië het verlede week gesê dat mense ’n soortgelyke paspoort nodig het om toegang tot hul museums en rolprentteaters te kry, in restaurante en kafees te eet of om swembaddens, casino’s en ’n verskeidenheid ander plekke te besoek.

Europa se lewensbelangrike reis- en toerismebedryf is egter desperaat om ná ’n rampspoedige 2020 te herstel. Toeristegetalle in Europese lande het verlede jaar en vir die eerste vyf maande van 2021 met byna 70% gedaal.

Sommige lande, volgens ’n berig in die Guardian, het ook hul grensbeheer verskerp.

Malta het toegang vir toeriste wat nie ingeënt is nie verbied terwyl Duitsland strenger kwarantynregulasies ingestel het vir mense wat vanuit Spanje en Nederland daarheen reis.

Owerhede in Griekeland en Portugal vereis dat toeriste ook ’n groen paspoort as ’n bewys vir hul inentings toon.

“Die Delta-variant is selfs ’n groter bedreiging as die ander variante,” het die premier van Italië, Mario Draghi, verlede week aan verslaggewers gesê. “Die groen paspoort is nie arbitrêr nie, maar ’n noodsaaklike voorwaarde om te sorg dat die ekonomie nie sluit nie. Sonder inentings sal alles weer tot ’n stilstand kom,” het Draghi gesê.

Volgens die BBC het jong mense in Brittanje tot die einde September kans om Covid-paspoorte vir toegang tot nagklubs te kry. Boris Johnson, die Britse premier, het gesê hy is bekommerd oor die voortdurende gevaar van oordrag.

“Ek wil nie weer nagklubs sluit soos wat hulle elders gedoen het nie. Maar dit beteken dat nagklubs die sosiaal verantwoordelike ding moet doen,” het hy gesê.


Meer oor:  Pandemie  |  Inentings  |  Variante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.