Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Cyril, politici veroordeel terro-aanvalle in Kenia

Pres. Cyril Ramaphosa en plaaslike politieke partye het Dinsdag se terreur-aanval in Nairobi in Kenia, waarin minstens 14 mense gesterf het, ten sterkste veroordeel en dit onder meer as “barbaars” beskryf.

Die presidensie het Woensdag in ’n verklaring met kommer van dié aanval “op die regering en die mense van Kenia” kennis geneem.

Die presidensie het sy medelye uitgespreek met diegene wat familielede verloor het en die beseerdes ’n spoedige herstel toegewens.

“Voorlopige inligting dui daarop dat geen Suid-Afrikaner in die aanvalle beseer is nie. Die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Nairobi monitor die situasie en is in gesprek met die owerhede. Namens die regering en die mense van Suid-Afrika stuur ons ’n boodskap van ondersteuning aan die regering en die mense van Kenia,” lui die verklaring.

’n Chaos het Dinsdagmiddag in die Keniaanse hoofstad uitgebreek toe lede van die terroristegroep Al Sjabaab op ’n luukse hotelkompleks, die DusitD2 Nairobi, toegeslaan het.

’n Ontploffing en geweerskote kon gehoor word, terwyl mense paniekbevange in alle rigtings gespat het.

 

KYK: OOMBLIK TOE AANVALLERS TOESLAAN

 

Dit het later aan die lig gekom dat vier verdagtes op die hotel toegeslaan het. Bomme is na voertuie geslinger en geweerskote het deur die voorportaal weerklink, het BBC berig.

Een van die verdagtes het homself glo opgeblaas.

Die meeste van die slagoffers in die aanval het in die Secret Garden-restaurant gesit.

Volgens Reuters toon foto’s wat op die toneel geneem is dat van die slagoffers vermoedelik by hul tafels gesterf het.

Altesaam 11 Keniane, ’n Amerikaner en ’n Brit is in die aanval dood, terwyl twee ander lyke nog nie geïdentifiseer is nie.

Sowat 700 mense is uit die hotel ontruim nadat veiligheidsmagte in groot getalle op die toneel ontplooi is.

’n Joernalis en kameraman het tien uur lank in ’n toilethokkie weggekruip voordat hulle uiteindelik gered is.

Die joernalis het deurentyd op ’n WhatsApp-groep aan kollegas gesê hoe bang hulle is.

Pres. Uhuru Kenyatta van Kenia het Woensdag aangekondig dat 14 mense in die aanval dood is en dat al die aanvallers “geëlimineer” is.

Die Rooikruis meen egter dat tot soveel as 24 mense in die aanval gesterf het.

Daar was berigte dat die aanval Woensdag nog voortgeduur het, nadat nog ’n plofslag en geweerskote gehoor is.

Polisie wat die hotel beveilig. Foto: Reuters

Stevens Mokgalapa, DA-LP, het ook die “barbaarse” aanval veroordeel. “Die nasie van Kenia is ’n toegewyde vennoot in die pogings om vrede in Somalië binne die Afrika-Unie te bewerkstellig. Kenia is al herhaaldelik weens dié pogings in dié terroriste-organisasie se visier,” sê Mokgalapa.

Die party het ’n beroep op die lede van die Afrika-Unie gedoen om “elke moontlike hulpbron” beskikbaar te stel om geregtigheid vir die gruweldaad te laat geskied.

Die EFF het op sy beurt sy solidariteit met die mense van Kenia uitgespreek en sy simpatie met dié wat familielede verloor het.

“Ons veroordeel die dodelike aanvalle deur die terroristegroep Al Sjabaab as absolute lafhartigheid. Niks regverdig die dood van weerlose landsburgers in die najaag van enige politieke of godsdienstige instelling se doelstelling nie.”

Die EFF het bygevoeg dat enige missie – polities of godsdienstig – wat verantwoordelik vir die “genadelose en sinlose dood van ongewapende, weerlose landsburgers” is, is boos en dat hulle as sulks veroordeel moet word.

“Ons vra die Afrika-vasteland en die wêreld om te verenig in hul veroordeling van die Al Sjabaab-terroriste-aanvalle. Ons doen verder ’n beroep op die Afrika-Unie om met militêre optrede teen die terroriste in te gryp voordat hulle nog lewens neem.”

Die parlement het ook sy kommer oor die aanvalle uitgespreek. Siphosezwe Masango, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge en samewerking, sê aanvalle soos dié in Kenia is “diep kommerwekkend en het geen plek in Afrika” nie.

“Die wêreld moet dié gewelddadige aanvalle uitroei en doelgerig optree teen omstandighede wat ’n vrugbare teelaarde daarvoor skep. Die komitee glo dat onderhandelinge altyd verkieslik is in die oplossing van hierdie soort kwessies,” sê Masango.

Volgens hom moet alle nodige maatreëls getref word om die kwesbaarste landsburgers te beskerm en by te staan.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Kenia  |  Nairobi  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.