SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Dankie, dankie,’ sê Thaise seuns aan redders
’n Familielid van een die van die seuns wys ’n foto van hulle nadat die 12 seuns en hul afrigter lewendig gevind is. Foto: Getty Images

“Dankie, dankie.”

Dit is van die eerste woorde wat die lede van ’n sokkerspan wat nege dae lank in ’n grotstelsel in die noorde van Thailand vasgekeer is, aan reddingswerkers gesê het toe hulle gevind is.

Twee Britse reddingswerkers het die seuns, tussen die ouderdomme van 11 en 16 jaar, en hul 25-jarige afrigter sowat 1 km ondergronds gevind, berig CNN.

Dit is die eerste keer in nege dae dat die groep ander mense gesien het.

Familielede van die seuns bid vir hulle nadat die seuns en hul afrigter lewend gevind is.Foto: Getty Images

Hulle is deur stygende vloedwater in die grot – ’n gewilde toeristeattraksie in Thailand – vasgekeer.

Familielede van die seuns het gejuig toe hulle hoor dat die groep lewend gevind is.

Ook die reddingswerkers het blad geskud en mekaar gelukgewens, berig Reuters.

“Ek was bly toe ek die gejuig van die reddingswerkers hoor. Ek het gehoop om my seun lewend te sien.

Opgewonde familielede praat met die media nadat die nuus gebreek het dat die vermiste seuns en hul afrigter lewend gevind is. Foto: Getty Images

“Ek wil my seun ’n drukkie gee . . . gewoonlik slaap ons familie saam in dieselfde bed. Ons is ’n familie wat baie geheg is,” sê Adisak Wongsukjan, wie se seun Ekarat (14) een van die seuns in die grot is.

In ’n video wat deur die reddingswerkers gemaak is, kan gehoor word hoe een van hulle die seuns vra hoeveel daar in hul groep is, waarop ’n seun antwoord “13”. Die reddingswerker sê dan “briljant”.

Genl. Bancha Duriyaphan praat met die media nadat die 12 seuns en hul afrigter lewend in die grot gevind is. Foto: Getty Images

Daarna vra die seun of hulle vandag gaan uitkom en watter dag dit is. Die seuns sê ook hulle is honger en dat hulle baie bly is (dat hulle gevind is). Hulle bedank weer die reddingswerkers voordat hulle vra waarvandaan die reddingswerkers is.

Sedert die sokkerspan verlede maand vermis geraak het, is ’n groot internasionale reddingspoging van stapel gestuur en het reddingspanne deur dik modder en hoë watervlakke geworstel om die groep in die grotstelsel, wat sowat 10 km in ’n berg in strek, op te spoor.

Familielede reageer nadat hulle uitgevind het dat die 12 seuns en hul afrigter lewend gevind is. Foto: Getty Images

Narongsak Osottanakorn, goewerneur van die provinsie Chiang Rai, het aan verslaggewers gesê die Thaise vloot “het al 13 gevind met tekens van lewe”.

Dit is onbekend of enigeen beseer is of mediese behandeling nodig het. Energiejel is aan hulle gegee om hulle aan die gang te hou terwyl aan ’n plan gewerk word om hulle na veiligheid te bring.

Kapt. Jessica Tait van die Amerikaanse lugmag se reddingsondersteuningspan sê regdeur die soektog was daar baie uitdagings, maar die poging het die land saamgesnoer.

Die volgende stap is om die groep uit die grot te kry. Reddingswerkers oorweeg die opsie om te wag totdat die watervlakke daal, of ’n ander opsie om die groep te leer om duiktoerusting te gebruik.

Reddingswerkers word in die grot gestuur om met die reddingsoperasie te begin nadat die seuns en hul afrigter gevind is. Foto: Getty Images

Mediese spanne het noodhulpstelle gereed gekry nadat die groep gevind is.

Volgens Narongsak is noodspanne in die grot gestuur. Dit sal hulle sowat vier uur neem om vas te stel in watter toestand die groep is voordat besluit word op ’n strategie om hulle uit die grot te kry.

’n Waterpomp pomp water uit die grotstelsel terwyl die reddingsoperasie aan die gang kom. Foto: Getty Images
Die gesprek tussen die seuns en die reddingswerkers het so verloop:

Seun: Hi jy, dankie, dankie.

Reddingswerker: Hoeveel is julle?

Seun: 13

Reddingswerker: 13. Briljant.

Seun: Ja, ja. Ons gaan vandag?

Reddingswerker: Nie vandag nie. Nie vandag nie. Dit is net ons twee. Jy moet vir hulle sê. Ons kom. Dit is oukei. Baie mense kom. Ons is die eerstes.

Seun: Wat is vandag?

Reddingswerker: Watter dag is dit nou? Maandag. Maandag. Julle is hier vir tien dae. Tien dae. Julle is baie sterk, baie sterk.

Seun: Onhoorbaar.

Reddingswerker: Oukei. Gaan terug. Ons kom. Ons kom.

Seun: Ons is honger.

Reddingswerker: Ek weet. Ek weet. Ek verstaan. Ons kom. Oukei, ons kom.

Seun: Sê vir hulle ons is honger (in Thai).

Seun: Hulle sê hulle weet (in Thai).

Reddingswerker: Ons kom, ons kom.

Seun: Ons het nie geëet nie (in Thai). Ons moet eet, eet, eet.

Seun: Het hulle reeds gesê (in Thai).

Reddingswerker: Die vloot gaan môre kom, met kos en dokters en alles.

Seun: Ek is baie bly.

Reddingswerker: Ons is ook bly.

Seun: Baie dankie, baie dankie.

Reddingswerker: Oukei.

Seun: Waar kom julle vandaan?

Redders: Engeland, Brittanje.

Seun: O! 

CNN en Reuters

Reddingswerkers het ’n banier by die Khun Nam Nang Non-woudpark opgehang om die seuns en hul afrigter terug te verwelkom. Foto: Getty Images



Meer oor:  Grot  |  Sokkerspan  |  Grotredding  |  Redding  |  Thaise Seuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.