Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Debat laaste kans vir Trump, Biden om stemme te werf
Donald Trump
Pres. Donald Trump Foto: Reuters

Vir die Amerikaanse presidentskandidate sal Donderdagaand se presidensiële debat ’n laaste kans wees om stemme te werf vir die verkiesing wat op 3 November gehou word.

Pres. Donald Trump (74), ’n Republikein, en Joe Biden (77), ’n voormalige visepresident en die Demokratiese Party se presidentskandidaat, se tweede en laaste debat, wat regstreeks op televisie uitgesaai sal word, vind Donderdagaand in Nashville, Tennessee, plaas.

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes Universiteit (NWU), sê daar is veral vir Trump hoë verwagtinge.

“Die groot vraag is of hy homself weer so gaan gedra soos tydens die vorige debat. Ek dink hy gaan weer baie aggressief voorkom, omdat hy homself net nie aan sy adviesraad steur nie,” sê Venter.

Trump en Biden se eerste presidensiële debat was op 29 September. Dit het in chaos ontaard nadat Trump Biden, asook die moderator, herhaaldelik onderbreek het in so ’n mate dat sommige kommentators gesê het dit was beswaarlik ’n debat.

Venter sê Trump se optrede is taktiek. “Trump sal dit beslis weer doen, al het sy adviesraad anders aanbeveel. Die rede is omdat Biden sukkel om te praat wanneer hy onder druk geplaas word. Trump, aan die ander kant, is iemand wat vinnig op sy voete kan dink.”

Biden het ná die eerste debat vir ’n knoppie gevra om Trump in toom te hou. Die organiseerders van die debat het die volgende dag gesê hulle sal die reëls hersien om “wanordelike gedrag” te probeer uitskakel.

Die onafhanklike kommissie oor presidensiële debatte het Maandagaand eenparig besluit dat die teenstander se mikrofoon afgesit sal word wanneer ’n kandidaat sy inleidingstandpunte vir die verskillende onderwerpe stel.

“Dit gaan veral interessant wees om te sien watter impak hierdie knoppies Donderdagaand sal hê,” sê Venter.

Volgens hom sal van die belangrikste kwessies gesondheidsorg en die aanstelling van ’n nuwe regter van die hooggeregshof wees.

Joe Biden Foto: Reuters

“Hierdie debat is ook ’n laaste kans vir Biden om aan meer as 100 miljoen Amerikaners te wys hy is geskik om die president te wees en dat hy sy werk sal kan doen,” sê Venter.

Volgens peilings is Biden die voorloper om as president verkies te word. Reuters berig meer as 30 miljoen Amerikaners het reeds gestem, wat beteken dat die debat nie ’n groot verskil sal maak nie.

’n Debat wat verlede Donderdag sou plaasvind, is gekanselleer omdat Trump nie wou instem tot ’n aanlyn debat nadat hy positief vir die koronavirus getoets is nie.

Trump het toe gesê dit sal ’n debat wees wat met ’n rekenaar gevoer word, waarin hy “afgeskakel” kan word.

Trump en Biden se debat sal Vrydag omstreeks 03:00 Suid-Afrikaanse tyd begin.

So sal die debat werk:

  • Die 90 minute lange debat is verdeel in ses afdelings van 15 minute elk.
  • Die ses onderwerpe wat in die verskillende afdelings bespreek word, is die koronaviruspandemie, Amerikaanse gesinne, ras in Amerika, klimaatsverandering, nasionale veiligheid en leierskap.
  • In elke afdeling kry elke kandidaat twee minute om sy inleidingstandpunt te stel.
  • In hierdie deel sal die teenstander se mikrofoon afgeskakel wees.
  • Die res van elke afdeling is ’n oop debat, waartydens albei kandidate se mikrofone aangeskakel sal wees.

- CNN, Bloomberg, AP, Reuters, The Guardian, The New York Times en Washington Post

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.