Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Demokraat beskuldig Trump van sameswering

’n Demokratiese wetgewer het Dinsdag ’n saak aanhangig gemaak waarin hy die voormalige Amerikaanse president Donald Trump en sy prokureur, Rudy Giuliani, daarvan beskuldig dat hulle geweld aangehits het wat op die gewelddadige stormloop op die kongresgebou in Washington D.C. uitgeloop het.

Die saak is in die Amerikaanse distrikshof van Washington gebring deur Bennie Thompson, ’n demokraat en voorsitter van die huis van verteenwoordigers se komitee vir binnelandse veiligheid.

Die senaat het Trump onlangs vrygespreek op die klag van die aanhitsing van die oproer by die kongresgebou op 6 Januarie waarin vyf mense dood is. Die stemming van 57 teenoor 43 in sy verhoor het nie die tweederdemeerderheid behaal wat nodig was om Trump skuldig te bevind op aanklag van aanhitsing van die opstand nie. Hy kan wel steeds gedagvaar word.

“Die opstand was die resultaat van ’n noukeurige georkestreerde plan van Trump, Giuliani en ekstremistiese groepe soos die Oath Keepers en Proud Boys, wat almal die gemeenskaplike doel gehad het om intimidasie, teistering en dreigemente te gebruik om die sertifisering van die verkiesing te ontwrig,” lui ’n verklaring oor die geding teen Trump.

Giulani is Trump se prokureur en die voormalige burgemeester van New York.

Daar word verwag dat ander lede van die kongres, insluitende die Demokratiese verteenwoordigers Hank Johnson en Bonnie Watson Coleman, hulle ook by Thompson se saak sal aansluit.

Meer as 18 mense wat met die verregse neofascistiese groep Proud Boys geassosieer word, is tot dusver vir hul beweerde rol in die onluste aangekla. Drie lede van die verregse teenregeringsburgermagtegroep, die Oath Keepers, is daarvan aangekla dat hulle saamgesweer het om die kongresgebou reeds in November te bestorm.

Die Oath Keepers bestaan meestal uit huidige en voormalige weermag- en polisielede.

Meer oor:  Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.