Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump-ondersoek: 'Hy misbruik departement vir politieke gewin'

Die Amerikaanse departement van buitelandse sake word deur die Trump-regering vir politieke gewin misbruik, het twee Amerikaanse diplomate voor die huis van verteenwoordigers se oorsigkomitees oor intelligensie en buitelandse sake getuig.

Marie Yovanovitch in Oktober toe sy voor die huis van verteenwoordigers getuig het. Foto: AP

Die parlementêre oorsigkomitees is reeds twee weke besig met ’n ondersoek na die moontlikheid dat Trump wetgewing oortree het toe hy na bewering druk op Oekraïne geplaas het om by volgende jaar se presidentsverkiesing in Amerika in te meng.

Die ondersoek fokus op ’n oproep op 25 Julie vanjaar waarin Trump die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, gevra het om met ’n ondersoek te begin na die sakebelange van Joe Biden en sy seun, Hunter, in Oekraïne. Biden is een van die sterkste kandidate om die Demokratiese benoeming vir die Amerikaanse presidentskap.

Die komitee het Maandag begin om transkripsies bekend te stel.

Marie Yovanovitch, die vorige ambassadeur in Oekraïne wat onverwags in Mei herroep is, sê in haar getuienis hoe sy in die konserwatiewe Amerikaanse media gekap is en hoe haar lojaliteit aan Trump bevraagteken is.

Sy was geskok toe sy by die adjunkminister van buitelandse sake, Philip Reeker, verneem dat Trump wil hê sy moet haar pos vir ’n paar maande verlaat.

Rudy Giuliani, Trump se persoonlik prokureur, en Donald Trump jr., die president se seun, het ook kritiek teen haar op sosiale media uitgespreek, het sy getuig.

Yovanovitch het in haar getuienis op 11 Oktober gesê sy het bedreig gevoel omdat Trump na haar in ’n gesprek met Zelenski verwys het.

“Ek het nie geweet wat dit beteken nie. Ek was bekommerd. Ek is steeds bekommerd,” lui haar getuienis.

Sy sê sy het laat verlede jaar daarvan bewus geword dat Giuliani betrokke was by Amerika se beleid in Oekraïne toe Oekraïense amptenare haar meegedeel het dat Giuliani met ’n voormalige Oekraïense staatsaanklaer gepraat het.

Ek het nie geweet wat dit beteken nie. Ek was bekommerd. Ek is steeds bekommerd.

Sy het ook beskryf hoe die Amerikaanse ambassadeur by die Europese Unie (EU), Gordon Sondland, haar aangemoedig het om haar steun vir Trump op Twitter uit te spreek in ’n poging om haar werk te behou.

Talle getuies het reeds getuig hoe Sondland, ’n skenker vir Trump, ’n groot rol in Oekraïense beleid gespeel het, hoewel Oekraïne nie deel van die EU is nie. Sondland het ook in die ondersoek getuig en ’n transkripsie van sy getuienis sal na verwagting nog uitgereik word.

Michael McKinley, ’n voormalige senior raadgewer vir die minister van buitelandse sake, het getuig hy het bedank nadat die departement Yovanovitch nie wou verdedig teen kritiek van Trump se politieke bondgenote nie.

Hy het ook vermeld dat hy bekommerd is omdat dit lyk asof ambassadeurs “gebruik word om binnelandse politieke doelwitte” te bereik.

Trump ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het en beskuldig die Demokrate daarvan dat hulle hom in hul visier het.

Indien die huis bevind daar is genoeg rede om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas, sal hulle aanklagte teen hom opstel en daaroor stem.

Die verhoor vind daarna in die hoërhuis, die senaat, plaas. Slegs as hulle met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan stem, sal Trump se kop rol – iets wat onwaarskynlik is omdat die Republikeine hierdie tweede parlementêre kamer beheer. – Reuters

Meer oor:  Donald Trump  |  Amerika  |  Misbruik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.