Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Deportasievlug moet omdraai na VSA, beslis regter

Pres. Donald Trump van Amerika se immigrasiebeleid is weer eens in die spervuur nadat ’n Amerikaanse federale regter Donderdag beveel het dat ’n deportasievlug met ’n ma en haar dogter aan boord na die VSA moet terugkeer. Die ma het asiel in die VSA gesoek.

Die BBC berig dat die ma en kind midde-in ’n appèlaansoek – juis teen hul deportasie – was.

Hulle is deur die American Civil Liberties Union (ACLU) verteenwoordig wat aanvoer dat hulle weens “ekstreme seksuele en bendegeweld” uit El Salvador in Sentraal-Amerika na die VSA gevlug het.

Die ma en dogter was deel van ’n regsaak deur die ACLU en die Center for Gender and Refugee Studies namens 12 ma’s en hul kinders wat beweer dat hulle weens geweld na die VSA gevlug het, maar nou die risiko loop om gedeporteer te word.

Die ACLU het Donderdag in ’n dringende hofaansoek gesê hulle het verneem die ma, net bekend onder die skuilnaam “Carmen”, en haar dogter was reeds op die deportasievlug, ten spyte van hangende appèlhofaansoeke teen die minister van justisie, Jeff Sessions, se strenger immigrasie-regulasies wat in Junie ingestel is.

Dié nuwe regulasies bepaal dat slagoffers van huishoudelike en bendegeweld nie meer as ’n reël vir asiel kwalifiseer nie.

Die ACLU het gesê die deportasie kom nadat die Amerikaanse regering Woensdag die versekering gegee het dat geen asiel-aansoeker voor Donderdag om middernag Amerikaanse tyd gedeporteer sal word nie.

Luidens The Guardian het regter Emmet Sullivan by die aanhoor hiervan onmiddellik beveel dat “Carmen” en haar dogter na die land teruggebring word.

“Hy het die deportasie ‘verregaande’ genoem en gedreig om Sessions aan te kla van minagting van die hof as die situasie nie beredder word nie,” is berig.

’n Amptenaar van die departement van binnelandse veiligheid het later aan Reuters bevestig dat die ma en haar kind nooit van die vliegtuig in El Salvador geklim het nie, en dat hulle teruggestuur is na Texas.

Sullivan het Donderdag ook die regering tydelik verbied om enige klaer in die hofgeding te deporteer.

Dit beteken dat die betrokke asiel-aansoekers nou in die VSA sal bly totdat die saak afgehandel is.

The Washington Post berig in ’n meningstuk dat hierdie nuwe regulasies van die Trump-administrasie eintlik wettige immigrante, en spesifiek hul kinders, straf.

Intussen berig The Hill dat die skeiding van immigrant-gesinne aan die land se suidelike grens gedoen is om onwettige immigrante af te skrik.

“Ná intense druk het pres. Trump uiteindelik in Junie ’n bevel onderteken wat die proses van gesinskeiding omkeer.

“Nou, weke later, is honderde mense steeds nie met hul gesinne herenig nie.

“Hierdie haastige beleid van ‘zero-verdraagsaamheid’ is die (Trump-)administrasie se nuutste in ’n reeks waarin kinders gebruik word om ’n regressiewe immigrasie-agenda te bevorder,” skryf The Hill.

Meer oor:  Donald Trump  |  Ma  |  Dogter  |  Deportasie  |  Immigrante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.