Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Diana-dokkie: Ode aan ’n ma
Diana, prinses van Wallis, het daarvan gehou om haar seuns in dieselfde klere aan te trek. Dié foto van die twee jong prinsies is deur hul ma geneem. Diana se pa, graaf Johnnie Spencer, was self ’n ywerige amateurfotograaf. Foto: Kensingtonpaleis

Dit was ’n eerste en ’n laaste. Prins William en prins Harry praat in ’n nuwe dokumentêr oor hul ma, Diana, prinses van Wallis. Dié dokumentêr is ’n huldeblyk van twee seuns wat hul ma gans te jonk verloor het, skryf Arlene Prinsloo.

As ’n lid van die eksklusiewe klub, soos William verwys na diegene wat ’n ouer jonk verloor het, kon ek nie help om bitterlik hartseer te raak toe ek dié nuwe dokumentêr Diana, Our Mother: Her Life and Legacy kyk nie.

Nie oor haar twee seuns, nou jong mans, se ongelooflike liefde vir hul ma nie, maar die nalatenskap van dié pragtige en gekompliseerde vrou aan haar twee seuns.

Dié dokumentêr is ’n rou en eerlike kyk van twee jong mans wat hul geliefde ma op onderskeidelik 15 en 12 verloor het.

Dit was die ma wat hulle, soos Harry sê, in liefde versmoor het. Die ondeunde en stout ma met ’n humorsin soos min, wat vir hulle stout kaartjies kosskool toe gestuur het wat hulle liefs in die privaatheid van hul kamers gelees het, lekkers in sokkies ingesmokkel het, en hulle aan die lewe buite die paleis bekend gestel het.

Diana se opvoeding het neerslag gevind in die normaliteit wat al twee prinse al in hul lewe bepleit het. Sy het die seuns aan die lewe buite die paleismure bekend gestel.

Die tyd vir ’n lewe agter paleismure is verby. Dit is ’n fyn balans tussen ’n private lewe (met ’n sin vir normaliteit) en openbare geleenthede. Dit is ’n akrobatiese balanseertoertjie wat Diana nie kon regkry nie, maar duidelik het haar seuns die lesse geleer wat hul ma nie het nie.

Moenie te na aan die media kom nie en moenie die media te veel in jou lewe toelaat nie, is William se woorde. Want as jy die media eers ingelaat het, kan jy hulle nie uitboender nie.

Dit is wat met Diana gebeur het. Sy was só ’n vars bries in die Britse koningshuis dat sy later die publisiteit oor haarself begin glo het, en besef het hoe die media haar kon help in haar eie stryd om oorlewing agter die paleismure.

Sy het redakteurs en joernaliste wat sy vertrou het, gereeld brokkies inligting gevoer, en dit soms met groot verontwaardiging ontken wanneer die stories gepubliseer is.

Diana, prinses van Wallis, met prins Harry op die Britannia. Die foto is een van die foto’s wat deur die prinse in die dokumentê Diana, Our Mother: Her Life and Legacy uit haar persoonlike foto-albums aan die media beskikbaar gestel is. Foto: Kensington-paleis
In die dokumentêr vertel prins William hoe lief sy ma daarvoor was om foto’s te neem, veral van haar twee seuns. Dié foto kom uit ’n persoonlike foto-album van Diana, prinses van Wallis. Agterop die foto is geskryf W en H. Sy was swanger met prins Harry.Foto: Kensingtonpaleis

Twee seuns se ode

Maar dié dokumentêr is nie ’n plek vir smeerstories en verwyte nie.

Eerder twee jong mans se ode aan hul ma, wat hulle oneindig liefgehad het, en hul liefde aan haar wat ná 20 jaar nog skyn. Die spyt van ’n seun wat sy jong kinders maar net van hul “ouma Diana” kan vertel.

Die prinse bring die fokus terug, weg van die skinderblaaie af, na dít wat vir Diana belangrik was. Liefdadigheidswerk waarvoor sy ’n passie gehad het: Haar baanbrekerswerk onder vigslyers, haar betrokkenheid by organisasies wat hulle vir haweloses beywer, en dan haar belangrikste werk seker naas die grootmaak van haar seuns, die verwydering van landmyne.

Diana was ook ’n groot ondersteuner van haar vriendin Julia Samuel se Child Bereavement-stigting. William is op sy beurt een van die beskermhere van dié organisasie. Dié werk sluit aan by die werk wat die prinse saam met Catherine, hertogin van Cambridge, se Heads Together-organisasie doen. Dit is ’n sambreelorganisasie wat ten doel het om die stigma verbonde aan geestesongesteldheid af te breek. Samuel is terloops ook een van prins George se peetouers.

Op dié saamgestelde foto kan Diana, prinses van Wallis, onder op ’n besoek aan Centrepoint se hostel vir haweloses in Londen gesien word. Op die boonste foto is prins William in 2006 afgeneem tydens ’n besoek aan Centrepoint. Diana het prins William en prins Harry van jongs af aan die lewe buite die paleis blootgestel, ook die ongenaakbare werklikheid van haweloosheid. Foto: Getty Images

Liefdadigheidswerk met ’n passie

Dít is die werk wat hulle wil voortsit. Liefdadigheidswerk waarvoor hulle ’n passie het, pleks van honderde organisasies waarvan hulle die beskermhere is, maar vir wie daar nie tyd is om die spreekwoordelike handevuilmaakwerk te doen nie. Die seuns is soos hul ma: Hulle wil nie net hulself vir fotogeleenthede beskikbaar stel nie, maar self die inbellyn in Centrepoint antwoord of self deelneem aan die verwydering van landmyne.

Diana het haar seuns reeds op ’n vroeë stadium blootgestel aan haweloses, en William sit haar werk in dié veld voort.

Harry is weer ’n voorstander van ’n poging om die wêreld teen 2025 landmynvry te hê, en sy werk met MIV/vigs-organisasies is reeds wyd bekend in Suider-Afrika, waar hy saam met prins Seeiso van Lesotho die Sentebale-welsynorganisasie op die been gebring het. (Sentebale beteken “vergeet my nie”.)

Die dokumentêr bied ook ’n blik op die jong Diana, sorgvry en aan die dartel voor haar pa, graaf Johnnie Spencer, se videokamera. Van die tuisvideo’s was te sien op die Diana-uitstalling op die Althorp-landgoed, voordat albei seuns 30 geword en al hul ma se besittings van haar broer, graaf Spencer, na haar seuns verskuif het.

Dit is om na ’n amperse spieëlbeeld van Diana te kyk wanneer ’n mens na die dokumentêr kyk: William, wat so ongelooflik op sy ma trek, en Harry met sy happy go lucky-sjarme.

Tog lê die wonde van haar dood 20 jaar gelede op 31 Augustus nog bitter vlak as ’n mens sien hoe Harry sluk wanneer hy sê dat as haar seuns sal hulle natuurlik sê sy was die beste ma in die wêreld.

Die feit dat Anne Beckwith-Smith, Diana se eerste hofdame, wat tien jaar aan haar sy was, in die dokumentêr noem dat sy en Diana op laasgenoemde se eerste koninklike werkverpligting na Wallis aan die diep kant ingegooi is, is tekenend. Dié sinnetjie sou nie ongemerk by die seuns verbygegaan het nie . . .

Die twee broers terg mekaar in die dokumentêr Diana, Our Mother: Her Life and Legacy oor dié foto. William terg Harry oor sy blonde wenkbroue en sproete en Harry spot met sy maer bene! Foto: Kensington-paleis

Van Diana se minder bekende vriende skets haar as ’n mens wat altyd eerste op die toneel was om iemand in nood te help. Haar humorsin word keer op keer uitgelig.

Wanneer haar broer, Charles, aan die woord kom, en vertel hoe Diana altyd na “klein mensies” omgesien het, en hy die eerste van dié mensies was na wie sy omgesien het, is dit ook tekenend dat Diana se seuns nie net Windsor-Mountbattens is nie.

Die feit dat hul oom ook in die dokumentêr ingesluit is, spreek boekdele. Dit wys dat William en Harry ook Spencers is.

Onthou, graaf Spencer is die een wat langs hulle gestap het toe Diana se begrafnisstoet deur Londen se strate gekronkel het, en by haar begrafnisdiens bo-oor haar kis moes kyk om met die seuns te praat toe hy die huldeblyk aan sy suster gelewer het. Dit is ’n toespraak wat vandag nog as ’n klap in die gesig van die Britse koningshuis gesien word. Die institution, soos Harry daarna verwys.

Prins Harry voer sy ma se veldtog saam met die Halo-trust verder. Hier is hy in 2010 in Mosambiek afgeneem waar hy toegelaat is om onder toesig landmyne te vernietig. Foto: Getty Images
Diana, prinses van Wallis, in Huambo, Angola, ten bate van die Halo-trust wat hom vir die opruiming van landmyne beywer. Foto: Getty Images

Kampvegter

Maar dit is met haar besoek aan Bosnië, drie weke voor haar dood, waar ek die trane nie kon keer nie.

Diana gesels deur ’n tolk met twee Bosniese seuns, Malic Bradaric en Zarko Peric. Hulle was destyds amper dieselfde ouderdom as haar seuns. Wanneer sy terugstap na die wagtende bussie toe, draai sy om en sê aan die seuns: “Julle sal nie vergeet word nie.”

Sy het daardie belofte gehou. Die groen heuwels om hul huise is nou landmynvry.

In April vanjaar ontmoet Harry vir Malic, Zarko en die twee Amerikaanse oudsoldate wat hulle beywer het om van landmyne ontslae te raak, Jerry White en Ken Rutherford, met “net een been tussen hulle”, in die Kensington-paleis.

Dit is ’n blye, maar ook hartseer ontmoeting. Harry noem aan hulle dat dié viertal Diana vir oulaas kon sien, anders as hy.

Malic en Zarko vertel hoe Diana en die teenlandmynveldtog hul lewe verander het. Veral Malic, wat self ’n landmyn afgetrap en sy been verloor het. Wanneer hy sê die paadjies om sy huis is nou landmynvry, maar Diana is nie hier nie, sluk ek swaar. Malic vee die trane weg.

Hy vertel hoeveel mense wat by die Bosniese burgeroorlog betrokke was, daagliks hulself om die lewe bring, maar sê dat Diana se woorde soos die wind onder sy vlerke is.

Prins William ontvang in Mei 2016 ’n geraamde foto van hom, sy broer, Harry, en hul ma, Diana, tydens ’n besoek aan The Passage. The Passage ontferm hulle oor haweloses. Dié foto van die prinses en haar seuns is in die dokumentêr te sien. Foto: Getty Images

Kampvegters

Wanneer Harry in April vanjaar in die Kensington-paleis ’n toespraak lewer waarin hy pleit vir ’n landmynvrye-wêreld teen 2025, sit die viertal wat Diana skaars drie weke voor haar dood in Bosnië ontmoet het, in die gehoor.

Dít is Diana se nalatenskap. Haar seuns en haar werk.

* Dit is die eerste keer dat die prinse gesamentlik oor hul ma praat. Albei het aangedui dat dit ook die laaste keer sal wees dat hulle só oor haar praat.

Meer oor:  Prins William  |  Prins Harry  |  Prinses Diana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.