Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Diana: ‘Dít het my getraumatiseer’
Op pad na dié funksie die aand by die Cannes-filmfees op 15 Mei 1987 het prins Charles sy vrou ingelig dat haar voormalige lyfwag, Barry Mannakee, die vorige aand verongeluk het. Foto: Getty Images

Diana, prinses van Wallis, sou nooit kon droom hoe haar ontboesemings op kasset en video 20 jaar ná haar dood steeds opslae maak nie.

Benewens die kasset-opnames wat sy aan die koninklike skrywer Andrew Morton beskikbaar gestel het om die basis te vorm van sy topverkoper Diana: Her True Story, het Diana ook van September 1992 tot Desember 1993 saam met die akteur en spraakafrigter Peter Settelen gewerk. Hy het gevoel sy kort hulp met die lewer van toesprake en het deur Diana se persoonlike afrigter met die prinses kontak gemaak.

Op Settelen se aanmoediging moes sy haar lewensverhaal vertel – op video – om só haar “ware self” te vind. Wat sekerlik vir Settelen verrassend moet gewees het (dit was immers hul eerste ontmoeting), bieg Diana van die eerste opname af oor wydlopende onderwerpe: van haar ongelukkige kinderjare, haar duidelike soeke na ’n vaderfiguur, aanvaarding, liefde en lof, prins Charles se hofmakery en haar hegte vriendskap met een van haar lyfwagte.

Sy sê oor prins Charles se hofmakery dat hy “oor haar was soos ’n uitslag”. Hulle het ook net 13 afsprake gehad voor hul verlowing. Ook dat haar suster, Sarah, met wie prins Charles ook ’n verhouding gehad het, nooit intiem met die prins verkeer het nie en dat Sarah dit vreemd gevind het.

Diana is informeel, amper koketterig wanneer sy haar bene optrek, haar arms om haar knieë vou en praat. Dit is soos ’n emosionele sweer wat oopbars.

Settelen het 12 opnames gemaak, waarvan die eerste sewe gebruik is om die dokumentêr, Diana: Her True Storyte vervaardig. Dié program is nog net een keer vantevore uitgesaai, in 2004 in Amerika op die kanaal NBC. Die BBC het ook Settelen se opnames aangekoop, maar besluit om dit nie uit te saai uit ontsag vir die koningshuis.

Nou het die Britse Channel 4 die regte bekom om die nuwe dokumentêr aanstaande Sondag in Brittanje uit te saai. Dit is grootliks gebaseer op die dokumentêr wat in 2004 uitgesaai is.

Die Mail on Sunday het Sondag berig graaf Charles Spencer, Diana se broer, het Channel 4 versoek om nie die dokumentêr uit te saai nie om haar seuns, prins William en prins Harry, verleentheid te spaar.

Opnames van die Settelen-onderhoude is egter maklik te vind op die internet deur ’n paar basiese soekwoorde in te tik.

Wel, ek verseg om die enigste prins van Wallis te wees wat nooit ’n minnares het nie.

Die opnames, wat nooit veronderstel was om openbaar gemaak te word nie, het al tot beskuldigings gelei dat Settelen munt uit Diana probeer slaan, Settelen kap terug deur te sê Diana het nie geweet sy gaan so vroeg sterf nie, en dat die publiek moet hoor wat sy te sê gehad het.

Van die opspraakwekkendste onthullings van die opnames is die volgende:

’n Prins van Wallis “mag ’n minnares hê”

Diana onthul dat sy weens ’n gebrek aan intimiteit in haar huwelik vermoed het prins Charles het reeds na sy minnares teruggekeer. Toe sy hom konfronteer, het Charles glo geantwoord: “Wel, ek verseg om die enigste prins van Wallis te wees wat nooit ’n minnares het nie.” Volgens Diana het prins Philip aan sy seun gesê hy moes sy huwelik kans gee en indien dinge ná vyf jaar nie vlot verloop nie, hy altyd na Camilla Parker Bowles kan terugkeer.

Net elke drie weke seks:

Diana en Charles se intimiteit het voor prins Harry se geboorte só afgeneem dat Diana dit “vreemd” gevind het. Hulle was een keer elke drie weke intiem. “En ek het gedink dit volg ’n patroon: hy het sy vriendin omtrent elke drie weke gesien voordat ons getroud is.”

Diana, prinses van Wallis, saam met haar lyfwag, Barry Mannakee. Diana onthul in die dokumentêr Diana: In Her Own Words hoe sy daarvan gedroom het om haar lewe in die paleis te verruil vir ’n lewe saam met die getroude Mannakee. Sy ontken egter dat hulle ooit intiem was. Foto: Getty Images

Die intense vriendskap met haar lyfwag:

Dié onthulling is nie nuut nie, maar dit is interessant om te sien hoe Diana haar hegte vriendskap met haar lyfwag, die getroude Barry Mannakee, verduidelik.

Sy sê in die onderhoud sy het “verlief geraak” op iemand in haar “omgewing”en noem eers later Mannakee by die naam. Sy sê sy was soos ’n klein dogtertjie by hom, en dat sy gewens het sy kan saam met hom wegloop om ’n ander lewe te begin.

Sy noem dat dinge “moeilik geword” het en Mannakee onthef is as haar lyfwag. Drie weke later het hy verongeluk.

Sy vertel van haar absolute verslaentheid toe sy en prins Charles op 15 Mei 1987 op pad na ’n geselligheid by die Cannes-filmfees was en hy haar in die motor vertel het dat Mannakee die vorige aand verongeluk het. Sy het gehuil, maar het by hul aankoms haar “gesig” as prinses van Wallis opgesit.

Sy het later Mannakee se graf gesoek, maar kon nie ’n grafsteen vind nie aangesien hy veras is. Sy het egter blomme in die begraafplaas neergesit en daarna het die “ongelukkige” drome oor hom opgehou.

Haar “gebrek” aan intellek

Diana vertel hoe haar familie altyd vir haar gesê het sy is die dom een en dat haar broer die slim een is. Sy het na haar skoolhoof gegaan en huilend gesê: “Ek wens ek was nie so dom nie.”

Haar “lot”

Sy het van kleins af besef sy is anders as haar skoolmaats wat betref haar lewenspad. Derhalwe het sy geen verhoudings gehad voor die een met prins Charles nie.

Sy het gedink wanneer ’n mens verloof raak, impliseer dit liefde. Sy het op Charles se antwoord ná hul verlowing, oor of hy verlief is, en hy geantwoord het “Wat liefde ook al beteken,” gesê sy het Charles se antwoord “vreemd gevind. God, dit het my absoluut getraumatiseer”.

Ek weet nie wat jy moet doen nie. Charles is hopeloos.

Charles is “hopeloos”

Diana het in 1985 die top lady, koningin Elizabeth, gaan opsoek. Die koningin het haar glo geantwoord: “Ek weet nie wat jy moet doen nie. Charles is hopeloos.” Waarop Diana verder aan Peter vertel: “En dit was dit. So, ek het nie weer na haar toe gegaan nie omdat ek nie teruggaan as ek nie die eerste keer gehelp word nie. Dus het daar oor die jare ’n ding ontstaan van ‘Diana praat nie. Ek weet nie wat aangaan nie. Silly girl.’ ”

Diana onthul in die dokumentêr van 90 minute hoe gefrustreerd sy was dat daar niemand was om net hul arms om haar te sit, te luister, nie.

Oor die mislukking van haar huwelik, wat die koninklike familie volgens Diana voor die deur van haar eetversteuring, bulimie, gelê het, sê Diana die huwelik het misluk omdat sy verwerp is. “Ek dink nie ek was goed genoeg vir die familie nie. So ek het dit op myself uitgehaal. Ek het gedink ek kon alkohol misbruik het, maar dit sou opmerklik gewees het. Ek kon anoreksie gekry het, wat meer opvallend sou gewees het. Ek het besluit om die meer diskrete opsie te kies – wat op die ou einde glad nie diskreet was nie. Maar . . ., ek het verkies om myself seer te maak in stede van julle.”

Diana sê sy het van haar woede ontslae geraak deur te vomeer. Sy sou baie positief en stil wees nadat sy opgebring het.

Die “Settelen”-opnames is al vir jare in omstredenheid gehul. Die opnames is nooit bedoel om openbaar gemaak te word nie, en die polisie het op sewe van die opnames afgekom toe hulle ’n klopjag op Diana se lyfkneg, Paul Burrell, se huis gedoen het.

Die Spencer-familie het toe probeer om met ’n hofsaak die opnames terug te kry. Hulle het uiteindelik buite die hof met Settelen geskik. 

Hoewel min van die inligting in die nuwe dokumentêr werklik nuwe inligting is, word die uitsaai van die dokumentêr drie weke voor die 20ste herdenking van Diana se dood as onvanpas gesien, veral in die lig van haar seuns se dokumentêr, Diana: Our Mother – Her Life and Legacy.

Meer oor:  Harry  |  William  |  Diana  |  Prins Charles  |  Video  |  Seks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.