Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Die ajatolla se beste pel is dood

Ondanks beloftes in 2016 dat hy Amerika nie wil insleep by nog ’n bloedige oorlog in die Midde-Ooste waaruit dié land hom nie sal kan loswikkel nie, het pres. Donald Trump opdrag gegee dat een van Iran se mees senior generaals, Kassem Soleimani, vroeg Vrydagoggend in Bagdad, Irak, doodgemaak word. Iran het dadelik wraak gesweer en waarnemers van oor die politieke spektrum in Amerika het gewaarsku dit is ’n oorhaastige daad wat verreikende gevolge vir die Midde-Ooste en die wêreld kan hê. Die olieprys het dadelik gestyg en markte is erg ontsenu. Oorlog kan uitbreek. Daar is wel een ding waaroor die waarnemers saamstem: Soleimani was ’n slegte ou wat weggekom het met moord. Bobby Ghosh berig.

Kassem Soleimani. Die families van sy slagoffers het vir sy dood gebid.

Genl.maj Kassem Soleimani sou nooit vreedsaam in sy bed gesterf het nie.

As leier van die Koeds-mag van die Islamitiese Revolusionêre Wag en poppemeester van milisies en terreurgroepe dwarsdeur die Midde-Ooste, het hy die bloed van honderde duisende mense op sy hande: Siriërs, Irakiërs, Jemeniete, Libanese, Palestyne, Israeli’s, Amerikaners en mede-Iraniërs, onder andere.

Die families van sy slagoffers het vir sy dood gebid en hul regerings het planne gesmee om dit te laat gebeur.

Dit is aanduidend van Soleimani se vermetelheid dat hy nietemin windmakerig rondgeloop het in Bagdad in die geselskap van ander massamoordenaars wie se gesigte onder ander omstandighede op “Gesoek!”-plakkate in die plaaslike poskantoor sou gepryk het.

Dit was roekeloos tot op die punt van selfmoordagtig dat hy boonop in Bagdad was in die dae ná sy mees skaamtelose waagstuk: die aanval op Oujaarsdag deur sy Irakse medewerkers op die Amerikaanse ambassade in Bagdad.

Daar is baie slegte mense in hierdie wêreld. Ons kan hulle tog nie almal doodmaak nie?
Tucker Carlson, Fox News

Soleimani se dood – sy konvooi is digby die Bagdad-lughawe deur ’n missiel getref wat vanaf ’n Amerikaanse hommeltuig afgevuur is – was die voorspelbare ontknoping van sy toenemend roekelose gedrag die laaste jare.

Dat sy top- Irakse lakei, Aboe Mahdi al-Moehandis, boonop saam met hom gesneuwel het, was ook heeltemal gepas. Dié Irakiër was die een wat Soleimani se besluite uitgevoer het om vuurpylaanvalle te verskerp op Amerikaanse basisse, wat sou lei tot die gebeurtenis wat die afgelope week se chaos sou sneller: die moord op ’n Amerikaanse kontrakteur by ’n basis naby die noordelike Irakse stad Kirkoek.

Hierdie eskalasie in daad het gevolg op ’n soortgelyke eskalasie in woord deur Soleimani se baas, die Iranse opperleier ajatolla Ali Chamenei, wat Amerika se pres. Donald Trump uitgelok het op ’n manier wat hy gewéét het Trump die hel in sou maak: deur hom op Twitter te treiter.

Nadat Trump Iran geblameer het vir die aanval op die Amerikaanse ambassade in Bagdad, het Chamenei naamlik getwiet: “Jy kan niks doen nie . . .”

Die missiel wat Soleimani gedood het, is afgevuur vanaf die gevreesde MQ-9 Reaper-hommeltuig, wat teen 480 km/h kan vlieg.

Chamenei en Soleimani het klaarblyklik gereken Trump sal op hul uittarting reageer net soos die leiers van Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate voorheen gereageer het op al hoe meer onbeskaamde aanvalle op hul skepe en hul olie-aanlegte (naamlik om niks te doen nie).

Dalk het hulle gedink Trump kon nie die risiko loop van ’n oorlog in ’n verkiesingsjaar nie, asook oor die olieprys, wat gewoonlik ná konflik styg.

Of dat Trump doodeenvoudig nie die moed gehad het om hulle te konfronteer nie.

Wat hulle ook al gedink het gaan gebeur, is dit nou duidelik dat dit ’n dodelike fout was om die Amerikaanse president se reaksie só verkeerd te voorspel.

Anders as wat Chamenei se getart op Twitter aangedui het, was daar heelwat wat Trump in reaksie kon doen: Hy kon bestaande sanksies teen Iran verskerp het, wat die land reeds duur te staan kom, of aanvalle loods op Iran se bondgenote in die streek.

Al hierdie reaksies sou dalk vir Chamenei aanvaarbaar gewees het: Waarom sou ’n man wat weke gelede nog opdrag gegee het dat honderde Iraniërs geslag word tydens betogings teen die regering skaam wees om nóg lyding vir sy eie mense en hul bondgenote te veroorsaak?

’n Moordenaar is vermoor. Dié spotprent het op ’n opposisie-gesinde webblad verskyn.

Maar Chamenei het nie tred gehou daarmee dat ook Trump die vermoë het om roekeloos te wees nie. Pleks van bloot sanksies te verskerp, het die president gekies om ’n hommeltuig-aanval te loods wat die vlammedood sou verseker van een van Iran se mees gevreesde en belangrike militêre bevelvoerders.

So, wat nou?

Die siklus van roekeloosheid wat Chamenei begin het, laat hom nou met geen keuse nie as om die konflik verder en verder te laat eskaleer. Die verskil is net dat hy dit nou sal moet doen sonder sy mees doeltreffende terreur-instrument, ’n kommandant wat onderskei is deur sy blinde lojaliteit en klaarblyklik onlesbare dors na geweld.

Dít is eienskappe wat Chamenei ongetwyfeld sal mis namate die chaos wat hy veroorsaak het verder en verder uitkring. – Bloomberg

Dit is vir húlle ‘goeie nuus’

Genl.maj. Kassem Soleimani se dood sal Iran erg verswak, maar is goeie nuus vir Iran se vyande in die Midde-Ooste, waaronder Israel en Saoedi-Arabië, skryf die Amerikaanse Hudson-instituut se veiligheidsontleder Michael Doran Vrydag in The New York Times.

Dit is ook goeie nuus vir betogers in Iran, Libanon en Irak, wat “hoop om hul eie regering uit die kloue van die Islamitiese Republiek te bevry”.

‘Dit is lankal tyd vir so ’n reaksie.’

Dit is wel die finale spyker in die doodskis van oudpres. Barack Obama se beleid in dié streek. Obama het gehoop hy kon Amerika se belange in die Midde-Ooste met dié van Iran in pas te bring, sê Doran.

“Obama se soeke na ’n modus vivendi met Teheran het nooit rekening gehou met die Islamitiese Republiek se fundamentele karakter en ambisies in die streek nie. Pres. Trump, daarenteen, besef dat Teheran se doel is om Amerika as die sleutelrolspeler in die Midde-Ooste te vervang.”

Amerika is met geen keuse gelaat nie en moes volgens Doran Iran se militêre mag tromp­op loop eerder as om Soleimani se geweldsdade oor die jare onbeantwoord te laat. “Dit is lankal tyd vir so ’n reaksie,” skryf Doran. “Ek weet, as ’n voormalige senior amptenaar in die Withuis, dat Amerika al talle geleenthede gehad het om Soleimani dood te maak en elke keer daarteen besluit het. Hierdie selfbeheersing het Soleimani bloot meer tyd gegee om sy koninkryk te bou.”

Meer oor:  Kassem Soleimani  |  Donald Trump  |  Vsa  |  Iran  |  Irak  |  Midde-Ooste  |  Bagdad  |  Aanval  |  Hommeltuig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.