Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Die ‘Dame van Parys’ is in puin

Die Notre-Dame-katedraal in Parys is Maandagaand binne 90 minute in ’n verskriklike brand deels in puin gelê.

Rook borrel uit die Notre-Dame-katedraal, wat Maandagmiddag aan die brand geslaan het. Foto: Reuters

Terwyl die historiese katedraal in vlamme opgaan met brandbestryders wat hom heldhaftig probeer red, het omstanders op die oewer van die rivier saggies gesange gesing.

Die katedraal, een van Parys se gewildste toerismebestemmings, het groot restourasiewerk ondergaan. Die brand het vermoedelik ontstaan op die dak, wat ingeval het.

Teen laataand is water steeds na die hart van die katedraal, die middelskip of naaf, gespuit om die brand onder bedwang te probeer bring.

Houtwerk in die kerk en die eeue oue handewerk van vakmanne is verwoes. Na  wat berig word kon kunswerke en waardevolle geskiedkundige skatte soos die doringkroon gered word. 

Rookwolke het uit die Middeleeuse katedraal die lug in geborrel en later roet en splinters op omstanders laat neerreën.

Die televisiekanaal France 2 het berig dat die polisie die brand as ’n ongeluk hanteer.

’n Voël vlieg weg van die vlamme van die Notre-Dame-katedraal. Foto: Reuters

Die katedraal dateer van die 12de eeu en is bekend om die roman van Victor Hugo, The Hunchback of Notre-Dame, met miljoene toeriste wat dit jaarliks besoek.

Kyk na die fotogalery

Die steierwerk wat vir die restourasiewerk gebruik is, was ook laataand in vlamme gehul. Gelukkig is sommige bronsstandbeelde op verskillende vlakke van die katedraal verlede week verwyder voordat die groot restourasiewerk aan die dak kon begin.

Volgens omstanders het van die drakekopspuiers (gargoyles) die brand weerstaan.

Pres. Emmanuel Macron het die tragedie dalk die beste opgesom: “Ons dame van Parys brand. Dit is ’n emosionele tyd vir die nasie. Ons dink aan die Katolieke en aan al die Franse. Net soos ons burgers is ek vanaand hartseer om ’n deel van ons te sien brand.”

Die Dame van Parys

1. Die Notre-Dame de Paris is ’n Middeleeuse Katolieke katedraal in Parys, Frankryk.

2. Dit word beskou as die hart van Parys.

3. Die katedraal is een van die beste voorbeelde van die Frans Gotiese argitektuur.

4. Konstruksiewerk is in 1163 begin en het tot 1345 geduur.

5. Die katedraal is 130 m lank, 48 m breed en 35 m hoog.

6. Die roosvensters se deursnee is 10 m.

7. Die tweeling-kloktorings is 69 m hoog en het 387 trappe.

8. Dele van die kerk is in die Franse revolusie verwoes, en eers in 1870 herstel.

9. Die kerk is daarna tot die einde van die 20ste eeu grootliks onveranderd gelaat totdat groot restourasie- en skoonmaakwerk begin is.

10. Napoleon het in 1804 pous Pius VII na Parys genooi om hom in die Notre-Dame te kroon as keiser. Op die laaste minuut het Napoleon die kroon uit die pous se hande gegryp en homself gekroon.

11. Die huidige restourasiewerk het 6 miljoen euro beloop.

12. Die katedraal was die huis van ’n woud. Die dak is uit hout gemaak en dateer van die 12de eeu. Die houtraamwerk van die katedraal is uit meer as 1 300 bome gemaak. Elke balk is uit een boom gemaak.

Bronne: BBC, CNN, Wikipedia, www.discoverwalks.com

Meer oor:  Notre Dame
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.