Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Die dood loer oor seuntjies se skouers

Indien die watervlak weens stortreën erg sou styg in die Thaise grotstelsel waar 12 seuns en hul sokkerafrigter sedert 23 Junie vasgekeer is, kan hulle gedwing word om tot Januarie te wag om gered te word.

*Afstande nie volgens skaal

Die hoeveelheid reën wat die volgende week gaan val in die omgewing van die Tham Loeang Nang Non-grotnetwerk in die noorde van Thailand kan dus ’n bepalende faktor wees in die internasionale reddingspoging wat die wêreld se aandag aangegryp het.

Die meeste van die seuns – van tussen 11 en 16 jaar oud – kan nie swem nie en geeneen van hulle kan duik nie.

In briefies aan hul ouers wat uit die grot gebring is deur duikers wat hulle Maandag ná tien dae sonder kos gevind het, het een van die seuns geskryf: “Ek is oukei, maar dit is bietjie koud. Moet julle nie bekommer nie en moenie my verjaardag vergeet nie!”

Peter Dennis, voorsitter van die Britse grotreddingsvereniging waarvan ’n ander lid die seuns eerste bereik het, het aan Rapport gesê die reënvalsyfer en suurstofvlak in die grot is bepalend.

“Ons hoop om enige tyd tussen nou en die volgende paar dae (met die reddingspoging) te begin,” het Dennis gesê.

Dié vereniging se wêreldbekende lid Rick Stanton (55), ’n brandweerman van Coventry in Brittanje, het die seuns eerste bereik.

‘Die seuns was in verbasend goeie gesondheid.’

Stanton en sy duikmaat, John Volanthen, het die redding tot dusver gelei en word bygestaan deur sowat 80 Thaise vlootvrywilligers. ’n Australiese grotreddingsduiker wat medies gekwalifiseerd is, het hom gister ook by die span aangesluit.

Een van die Thaise vrywilligers, Saman Kunan, is die afgelope week dood toe sy suurstof vermoedelik opgeraak het in ’n poging om die seuns te bereik.

Die seuns is sowat 4 km van die bek van die grot vasgekeer.

“Die verhoogte aktiwiteite en die modder wat dit in die water veroorsaak, maak dat die sig tans vir duikers bitter beperk is. Ons weet nog nie of Saman se suurstof bloot te min was, of hy dalk sy kop gestamp het en of hy nie op sy duikhorlosie kon sien om tred te hou met die suurstof in sy silinder nie,” sê Dennis.

Hy sê die seuns was “in verbasend goeie gesondheid” toe hulle gevind is.

“Teen die middel van die week was ons bekommerd toe die suurstofvlakke in hul grot tot 15% gedaal het.”

’n Reddingswerker op pad na die grot waar 12 lede van ’n sokkerspan en hul afrigter vasgekeer is. Foto: AP

Die normale vlak van suurstof buite die grotte is sowat 21%.

“As die vlak na 10% begin neig, gaan dit ’n probleem word. Dit is hoekom suurstofbottels afgeneem is.

“Ons het reeds ’n plan om die seuns uit te bring. Sowat die helfte van die tonnel is gevul met water, maar daar is gedeeltes waar jy deur die water kan loop.

“As die redding begin, sal ons met een duiker voor, ’n seun in die middel en nog ’n duiker agter op ’n stoot-en-trek-wyse werk. Die voorste duiker sal die weg baan en die agterste een sal seker maak die seun volg hom.

“Met suurstofbottels kan ’n ervare duiker die tonnel se uitgang binne sowat drie uur bereik. Met die redding sal dit minstens vyf uur neem – sonder komplikasies.

“Daar is reeds begin om die roete so skoon as moontlik te maak om die deurgang te vergemaklik. Ons sal net een seun op ’n slag na die oppervlak neem om te keer dat opeenhopings gebeur.”

Twee van die seuns se gesondheid is luidens berigte effe swakker as die res s’n.

“Hulle was egter verbasend opgewek toe hulle gevind is as mens in ag neem dat hulle kinders is wat geen benul gehad het van hoe lank hulle al vasgekeer was en of enige hulp op pad was nie.”

Intussen probeer mynbou-ingenieurs en ander kenners bepaal of hulle teen ’n skuins hoek ’n skag na die grot kan sink.

“Die probleem is dat niemand enige geografiese besonderhede het wat dit vir die ingenieurs moontlik maak om te bepaal presies waar hulle moet begin boor nie. Die grotnetwerk is nog nêrens gekarteer en opgemeet nie.

“As jy dus net ’n paar millimeters uit is met jou berekenings, kan jy die grot of die tonnel na die grot heeltemal mis,” sê Dennis.

Meer oor:  Thailand  |  Reddingspoging  |  Grot-Drama  |  Sokkerspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.