Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Die keiser is kaal, sê maer Nawalni oor Poetin

Die Russiese opposisieleier Aleksei Nawalni het Donderdag met sy eerste openbare verskyning sedert hy verlede week sy eetstaking beëindig het, teen pres. Wladimir Poetin uitgevaar.

Die Irish Times berig ’n maer en uitgeteerde Nawalni met ’n kaalgeskeerde kop is voor sy hofverskyning na ’n badkamer geneem om “ordentlik” vir die verhoor te lyk. Hy het tydens die verrigtinge, wat per videoverbinding plaasgevind het, sy tronkklere losgewikkel om ’n T-hemp te wys wat skaars sy dun bolyf bedek.

“Ek kyk in die spieël. Natuurlik is ek net ’n vreeslike geraamte,” het Nawalni gesê en bygevoeg dat hy nou 72 kg weeg, dieselfde as toe hy nog op skool was.

Die 44-jarige Nawalni het ook Poetin en die Russiese regstelsel gekritiseer.

“Ek wil aan die liewe hof sê dat jou koning naak is,” het hy gesê, met verwysing na Poetin. Hy het die Russiese leier vergelyk met die dwase keiser in die klassieke kinderverhaal “Die keiser se nuwe klere”.

“Miljoene mense skreeu reeds daaroor, want dit is duidelik: Sy kroon is besig om af te gly,” het Nawalni gesê.

Nawalni het op 31 Maart met ’n eetstaking begin om beter mediese sorg vir sy been- en rugpyn te eis. Hy het op 23 April gesê dat hy die eetstaking gaan opskort nadat hy mediese sorg ontvang het.

Die regering het in sy reaksie gesê Nawalni kry dieselfde behandeling as enige ander gevangene.

’n Maer, uitgeteerde Nawalni met ’n kaalgeskeerde kop verskyn Donderdag deur middel van ’n videoverbinding vir die eerste keer in die openbaar sedert hy sy eetstaking in die gevangenis opgeskort het. Foto: Reuters

Nawalni kon Woensdag daarin slaag om vier lepels pap te eet. Hy het gesê om tien lepels in te kry sou “ ’n deurbraak” vir hom wees.

Volgens die BBC het Nawalni, met ’n kaalgeskeerde kop, via ’n videoverbinding in die hof verskyn omdat hy appèl aangeteken het teen ’n boete wat hom opgelê is.

Die boete was omdat hy glo ’n Russiese veteraan van die Tweede Wêreldoorlog, wat in ’n video van die Kremlin verskyn het, belaster het. Die regter het Nawalni se appèl van die hand gewys.

Moskou was ook Donderdag besig om ’n versoekskrif van ’n aanklaer te bespreek om al Nawalni se politieke organisasies as “ekstremisties” te klassifiseer en te verbied.

Leonid Wolkof, een van Nawalni se leiers, het vroeër aangekondig dat ongeveer drie dosyn van hul kantore gesluit sou word om personeel en ondersteuners teen vervolging deur die Russiese regering te beskerm.

Die kantore is reeds in 2017 opgerig voor Nawalni se poging om Poetin as leier uit te daag. Hy is uiteindelik belet om aan die wedloop vir die presidentskap deel te neem.

Reuters via Irish Times: https://www.irishtimes.com/news/world/europe/navalny-denounces-thieving-king-putin-in-moscow-court-appearance-1.4551192

BBC: https://www.bbc.com/news/world-europe-56919934

Meer oor:  Aleksei Nawalni  |  Wladimir Poetin  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.