Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Dís wie besluit het prinse moet agter kis aanloop

Wie se besluit was dit om prins William en prins Harry agter hul ma se kis te laat stap?

Dié vraag is nou uiteindelik beantwoord.

Die seuns het van St. Jamespaleis tot by die Westminster-abdy agter hul ma se kis saam met hul pa, prins Charles, oom, graaf Charles Spencer, en oupa, prins Philip geloop. Foto: Getty Images

Met Diana, prinses van Wallis, se afsterwe op 31 Augustus 1997 was die koningsgesin met vakansie in Balmoral, Skotland.

Koningin Elizabeth II se besluit om haar kleinseuns eerder in die afgesonderdheid van Balmoral in die Skotse Hooglande te hou pleks van om onmiddellik na Londen terug te keer, is destyds wyd veroordeel.

Britse koerante het die koningin se afwesigheid bestempel as kil en uit voeling met die derduisende Britte wat soos een kommentator dit gestel het, ’n kollektiewe senu-ineenstorting met Diana se dood gehad het.

Die Britte wou hul koningin in lewende lywe sien, maar vir een keer in haar lewe het die koningin haar private lewe en kleinkinders voor haar onderdane gestel.

Op Balmoral kon die seuns in privaatheid rou. Koerante is van hulle weggehou en hulle is die amper massa-histerie in Londen gespaar.

Tony Blair, destydse Britse premier, het in Trimdon naby Newcastle ‘n nuuskonferensie oor Diana se afsterwe toegespreek. Hy het die bynaam “People’s Princess” aan Diana gegee. Foto: Getty Images

Dit was Tony Blair, destydse Britse premier, wat die Sondagoggend toe Diana se dood bekend geword het, die eretitel ‘People’s Princess’ aan Diana toegeken het. Dit het oombliklik aanklank by die publiek gevind.

Prins Charles wou graag eer aan sy gewese vrou betoon en agter die stoet stap. Daar was egter vrese dat hy uitgejou sou word.

Bewerings dat graaf Charles Spencer, Diana se broer, alleen agter die kis wou stap, is ook ongegrond.

Blair se raadgewers het saam met die Spencers en paleisamptenare die begrafnis gereël en voorgestel dat die jong prinse agter hul ma se kis stap.

Prins Philip was só woedend toe hy van dié voorstel hoor dat hy bulderend oor die telekonferensie amptenare toegesnou het met twee woorde: “F*** off.” Hy het almal herinner dat die seuns, destyds 15 en 12, se ma pas oorlede is. Hoewel die koningin nie deel van dié vergadering was nie, word daar vertel dat sy tevrede was met haar man se antwoord op die voorstel, berig Express.

Ook graaf Spencer is mislei. Paleisamptenare het aan hom gesê die seuns stap uit vrye wil, ondanks Spencer se besware dat sy suster dit nie sou wou gehad het nie.

Prins William wou glad nie agter die begrafnisstoet loop nie, omdat hy in privaatheid wou rou.

Blair se beeldpoetsers was egter van mening dat dit sou wys “die koninklike familie gee om”.

Die betrokkenheid van die seuns in die begrafnisstoet is eers die Saterdagoggend van die begrafnis vasgemaak.

Prins Philip het glo die Vrydagaand tydens aandete en ná besprekings aan die seuns gevra of indien hy saam met hulle sou stap, hulle dan sou stap, berig die Daily Express. William het tussen sy oupa en oom gestap.

Prins Philip was só woedend toe hy van dié voorstel hoor dat hy bulderend oor die telekonferensie amptenare toegesnou het met twee woorde: “F*** off.”

Só het dit gekom dat die twee seuns, hul pa, oupa en oom te voet van St. Jamespaleis na die Westminsterpaleis agter die kanonwa met hul ma se kis op, gestap het.

Prins William vertel in ’n nuwe dokumentêr, wat die naweek in Brittanje uitgesaai word, dat hy deur sy kuif die hele prosessie gevolg het. Hy vertel ook hoe dit gevoel het of sy ma by hom en Harry was, om hulle krag te gee. Prins Harry se vuiste was deurentyd gebal waar hy tussen sy oom en pa gestap het.

Prins Harry het vroeër vanjaar vertel hoe ongelooflik moeilik dié ervaring was en dat dit - om hom en William deel van die begrafnisstoet te maak - nie vandag sal gebeur nie.

Ook graaf Spencer beskryf dié 35 minute as van die ergste in sy lewe.

Dat Blair gehelp het om die koningshuis bewus te maak van die anti-koningshuis-sentiment in Londen ná Diana se dood, is nie altemit nie.

Die gevoel op straat was anti-Charles en sterk teen die monargie.

Koningin Elizabeth II het dié Vrydag voor die begrafnis op 6 September met roubeklaers voor Buckinghampaleis en by St. Jamespaleis gepraat. ’n Omstander het ’n rooi roos vir haar gegee. Foto: Getty Images

Dit is op Blair se raadgewers se aandrang dat die koningin die Donderdag voor die begrafnis buite Balmoral saam met haar kleinseuns verskyn het, en ook die Vrydag toe sy by Buckinghampaleis aankom, uit die motor geklim en met toeskouer gepraat het.

Die atmosfeer was gespanne totdat ’n omstander vir die koningin ’n rooi roos gegee het. Later die middag het sy en prins Philip by St. Jamespaleis met roubeklaers gepraat en het prins Charles sy seuns vergesel na die blommesee buite Kensingtonpaleis.

Prins Harry vertel in Diana: 7 Days hoe mense hom gegroet en hul hande nat was soos hulle gehuil het en hul gesigte afgevee het.

Dat Blair oombliklik die nasie se gevoel kon verwoord toe hy die Sondagoggend op pad kerk toe om kommentaar genader is oor Diana se afsterwe, bly ’n meesterskuif van dié politikus.

Met sy raadgewers se hulp was Diana se begrafnis ’n mengsel van koninklike seremonie en Diana se voete-plat-op-die-aarde-aanslag.

En met die koningin wat die Vrydag laatmiddag in ’n regstreekse TV-uitsending uit Buckinghampaleis uit hulde aan Diana gebring het - is gemoedere gekalmeer. Tot die vensters is oopgelaat in die vertrek waar die opname gedoen is, om die klanke van buite (duisende mense was toe reeds voor Buckinghampaleis saamgetrek) op te vang.

Die staatsbegrafnis, met informele elemente soos die verteenwoordigers van Diana se welsynorganisasies wat agter haar kis aangestap het en Elton John se roerende vertolking van ‘Goodbye England’s Rose’ in die adby, was Diana se begrafnis die perfekte eerbetoon aan die unieke mens wat sy was.

Die begrafnis is wêreldwyd op televisie deur sowat twee miljard mense gekyk.

Die kameras mag tydens die diens glad nie op die Spencers of koningsgesin gefokus het nie - uit respek indien die seuns sou huil.

Ná die diens in die abdy is Diana se kis in ’n lykswa gelaai en na Althorp, die Spencers se tuiste, vervoer. Die motor is oorval met blomme soos omstanders tot op die snelweg geparkeer het om ’n laaste eerbewys aan Diana te betoon.

Meer oor:  London  |  Brittanje  |  Besluit  |  Diana  |  William  |  Het  |  Harry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.