Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Dodetal in Europese vloede hoogste in byna 60 jaar

Altesaam 103 mense is in Duitsland dood in vloede wat veroorsaak is deur dae lange swaar reën.

Dit is die meeste mense wat in byna 60 jaar weens ’n natuurramp in die land dood is.

Duitse amptenare het Vrydag gevrees dat die dodetal nog verder sou styg nadat vloedwaters huise en strate in die westelike dele van die land verswelg het.

Alle middele van kommunikasie is verwoes en gemeenskappe is in puin gelê nadat die westelike deelstate van Noordryn-Wesfale en Rynland-Palts sowel as dele van België en Nederland oorstroom het.

’n Huis in Schuld in Wes-Duitsland waar vloede enorme skade aan eiendomme en infrastruktuur aangerig het. Foto: Getty Images

Die oorstromings is deur Armin Laschet, staatspremier van Noordryn-Wesfale, as “ ’n katastrofe van historiese omvang” beskryf.

Weerkundiges skryf die oorstromings, veroorsaak deur klimaatverandering, toe aan die verskuiwing van binnelandse water wat eens deel van die oseaan was.

“Dit is ’n hartseer om te dink dat sulke ekstreme gebeure in die toekoms al hoe meer deel van ons daaglikse lewe sal word,” het Laschet gesê en bygevoeg dat meer maatreëls nodig is om aardverwarming te beveg.

Sowat 114 000 huishoudings in Duitsland is Vrydag sonder elektrisiteit gelaat en mobiele telefoonnetwerke het in sommige oorstroomde dele ophou werk, wat die taak vir die owerhede bemoeilik het om die presiese getal vermistes te bepaal.

Paaie in talle gebiede is onbegaanbaar nadat dit deur die oorstromings weggespoel het. Reddingspanne het nogtans probeer om inwoners per boot of helikopter te bereik en het per handradio gekommunikeer.

“Die netwerk het heeltemal in duie gestort. Die infrastruktuur het in duie gestort. Hospitale kan niemand opneem nie. Ouetehuise moet ontruim word,” het ’n woordvoerder van die streeksregering van Keulen gesê.

Duisende inwoners in die noorde van die provinsie Limburg in die naburige Nederland is ook vroeg Vrydagoggend beveel om hul huise te verlaat toe die vloedwaters begin styg.

Frankryk het 40 militêre personeel en ’n helikopter na Luik in België gestuur om met die vloede te help, het die Franse premier, Jean Castex, op Twitter gesê.

“Die water styg al hoe meer. Dit is vreesaanjaend,” het Thierry Bourgeois (52) in die Belgiese stad Luik gesê. “Ek het nog nooit so iets gesien nie.”

Die dodetal in Duitsland is die meeste van enige natuurramp sedert ’n Noordsee-vloed in 1962 waarin ongeveer 340 mense dood is. – Reuters


Meer oor:  Duitsland  |  Reën  |  Sterftesyfer  |  Vloede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.