Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Drie mans steel goue munt van 100 kg
Die Big Maple Leaf het 100 kg geweeg en was so groot soos ’n motorband. Foto: Reuters

’n Hof in Berlyn, Duitsland, het drie mans skuldig bevind aan diefstal van ’n goue munt wat 100 kg weeg.

Die munt is $4 miljoen werd en is in 2017 gesteel.

Bloomberg berig twee mans van 23 en 21 jaar oud is albei tot tronkstraf van vier en ’n half jaar gevonnis.

Die derde man, ook 21 jaar oud, is tronkstraf van drie jaar en vier maande opgelê.

Die Duitse nuusdiens dpa berig dat ’n vierde beskuldigde vrygespreek is.

Hulle is verhoor onder reëls vir jeugdiges wat die gevangenisstraf wat opgelê kan word, verminder. Aanklaers het vyf tot sewe jaar gevra. Die verdediging het vryspraak gevra.

Die munt, genaamd “Big Maple Leaf”, met ’n uitbeelding van ’n esdoringblaar op die een kant en dié van koningin Elizabeth II op die ander kant, is uit sy houer uit die Bode-museum in Berlyn gesteel.

Die museum het ten tyde van die diefstal die munt by ’n private versamelaar geleen.

Die diewe het dit reggekry om die museum se alarmstelsel te omseil en het die munt – wat so groot soos ’n motorband is – binne net 16 minute gesteel.

Die Duitse nuusdiens dw berig dat die munt een van vyf is wat een miljoen Kanadese dollar werd is. Die munt is in 2007 deur die Kanadese Munt geslaan.

Hy berig verder beeldmateriaal wat deur sekuriteitskameras afgeneem is, wys die diewe het ’n venster gebreek om toegang tot die museum te kry.

Hulle het ’n tou, houtbalk en ’n kruiwa gebruik om die munt, wat 53 cm in deursnee is, op te tel.

Hulle het dit eers op ’n treinspoor wat langs die museum verbygaan, gestoot, voordat hulle dit in ’n motor gelaai het.

Die munt is moontlik tydens die diefstal beskadig aangesien beeldmateriaal wys dat die diewe dit twee keer laat val het voordat hulle daarmee weggekom het.

Dit was die tweede grootste munt in die wêreld.

Bloomberg berig hoewel die vier gevang is, is die munt nooit gevind nie. Daar word vermoed dat dit gesmelt is en in kleiner dele verkoop is.

– Saamgestel deur Elvira Wood uit Bloomberg en die Duitse nuusdienste dw en dpa.

Meer oor:  Goud  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.