Duisende bye op die dak van die Notre Dame het die vernietigende brand vroeër vandeesweek by dié katedraal in Parys in Frankryk oorleef omdat hulle “dronk” was.
Sky News berig dat Nicolas Geant, ’n byeboer, verlig was toe hy ontdek sy geliefkoosde insekte het die ramp oorleef.
“Ek het op satelliet-foto’s gesien die vlamme het nie by my drie byekorwe uitgekom nie. Pleks van om hulle dood te maak het die koolstofdioksied (van al die rook) die bye dronk en aan die slaap gesus,” het Geant verduidelik.
Volgens USA Today is die sowat 180 000 bye wat in die dak van die Notre Dame leef, deel van ’n veldtog wat in 2013 begin is om die voortbestaan van byekolonies te verseker.
CNN berig Geant het ’n oproep van André Finot, woordvoerder by die Notre Dame, gekry waarin hy meegedeel is dat sy bye die brand oorleef het. Die byekorwe is geleë sowat 30 m onder die dak van waar die brand versprei het. “Dankie tog die vlamme het nie by my bye uitgekom nie. Dit is ’n wonderwerk,” het Geant gesê