Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Dubbele tragedie tref die Kennedys

Die kleindogter en agterkleinseun van sen. Robert Kennedy het vermoedelik verdrink nadat hulle Donderdag op ’n kano in Chesapeakbaai in die deelstaat Maryland agter ’n bal aan is.

Daar was sedertdien ’n uitgebreide soektog na Maeve Kennedy Townsend McKean (40) en haar seun, Gideon Joseph Kennedy McKean (8). Die reddingspoging is Vrydagaand afgelas en daar word nou probeer om hul lyke op te spoor.

The Mirror berig die polisie het ’n paar kilometer van waar McKean-hulle in die water is, afgekom op ’n kano wat voldoen aan die beskrywing van die een waarin hulle was.

Haar man, David, het aan The Washington Post gesê die kinders het omstreeks 16:00 Donderdagmiddag ’n bal in hul agterplaas geskop toe dié in die water beland. McKean en haar seun het in die kano geklim en agter die bal aan geroei, maar verder uitgeroei as wat hulle in die sterk wind kon hanteer. Hulle kon nie weer terugroei na die oewer nie.

McKean is die dogter van Kathleen Kennedy Townsend, regsgeleerde en voormalige luitenant-goewerneur van Maryland. Oudpres. John F. Kennedy en haar oupa, Robert, was broers.

Albei broers is in sluipmoordaanvalle dood. Die Kennedy-familie is oor die jare deur verskeie tragedies gery. McKean se neef, John F. Kennedy jr., en sy vrou, Carolyn, is onder andere twee dekades gelede in ’n vliegongeluk dood.

McKean is ’n regsgeleerde wat spesialiseer in openbare gesondheid en menseregte en is die uitvoerende direkteur van die Georgetown-universiteit se internasionale gesondheidsinisiatief.

Kennedy Townsend het haar dogter beskryf as ’n toegewyde ma vir haar drie kinders en ’n staatsamptenaar met vuur in haar are. “My hart is verpletter, maar ons gaan ons oorgee aan God se genade, en die krag wat ons het om die hoop, energie en die passie wat Maeve en Gideon gehad het, te eer.”

Volgens CNN.com het die familie mense gevra om McKean en Gideon in hul gebede te hou, en om hul privaatheid in dié moeilike tyd te respekteer.




MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.