
Inwoners van die Praia Nova-omgewing soek skuiling nadat die storm hul huise beskadig of verwoes het. Foto: Reuters
Die tropiese storm Eloise het die naweek verwoesting in Mosambiek gesaai.
Die land se nasionale rampbestuur-instituut het Sondag gesê 12 mense is beseer en 6 859 is dakloos gelaat.
Eloise is aanvanklik as ’n sikloon geklassifiseer met stormwinde wat meer as 150 km/h behaal het.
Dit is later tot ’n tropiese storm afgegradeer en sal volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens Dinsdag in Botswana uitwoed nadat dit Mosambiek, Suid-Afrika en Swaziland getref het.
Mosambiek se Buzi-distrik is met winde van tot 150 km/h veral swaar getref, berig Reuters.
“Gesinne het dringend noodsaaklike voorraad soos kos, water, komberse en skuiling nodig,” het Marcia Penicela, projekbestuurder van ActionAid Mosambiek, uit Beira gesê.

Die lugfoto van die oorstromings is Vrydag in Beira, Mosambiek, geneem. Foto: Reuters
Reuters berig dat Eloise 136 755 ha se oeste verwoes het, nege skole vernietig en ongeveer 17 ander skole en 11 hospitale beskadig het. Die storm het ook 1 069 huise in puin gelê, 3 343 gedeeltelik vernietig en nog 1 500 is oorstroom.
Volgens Mosambiek se nasionale instituut vir meteorologie het Beira binne 24 uur 250 mm reën gekry, berig die BBC.
Die omvang van die skade word nog bepaal sodat die owerhede diegene wat geraak is, kan help en kragtoevoer en kommunikasiedienste in sommige gebiede kan herstel.
Volgens plaaslike amptenare is vier mense dood.

’n Inwoner van die Praia Nova-omgewing stap in die vloedwater. Foto: Reuters
Nathan Fouré van die Suid-Afrikaanse nooddiens Medi Response het ’n span na Mosambiek ontplooi wat na verwagting Dinsdag daar sal aankom. Volgens hom staan die nie-amptelike dodetal op 12.
“Die span is toegerus met mediese en ander reddingstoerusting en sal ander organisasies daar bystaan,” het Fouré aan Netwerk24 gesê.
Hy sê hoewel die skade “baie erg is, is dit nie so erg soos met Idai nie”.
Die tropiese sikloon Idai het in 2019 ramptoestande in die land veroorsaak.

Mense stap Saterdag deur die vloedwater in Beira, Mosambiek. Foto: AP

Talle geboue en infrastruktuur in Beira is in die tropiese storm beskadig of vernietig. Foto: Reuters

Bykans 7 000 mense is dakloos gelaat. Foto: Reuters

’n Man ry Saterdag op sy bromponie deur vloedwater in Beira. Foto: AP