Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Duisende stroom na Washington om steun aan Trump te wys

Die oorgang na die aangewese president van Amerika, Joe Biden, se administrasie was Sondag nog in politieke onsekerheid gehul, ’n dag nadat tienduisende ondersteuners van pres. Donald Trump na Washington gestroom het om hul steun vir Trump te wys.

Biden is reeds dae lank besig om saam met sy raadgewers te beplan wie hy in sy kabinet gaan aanstel, gelukwensings van wêreldleiers te hanteer en die beleid te beplan wat hy sal volg nadat hy op 20 Januarie ingehuldig word.

Ondersteuners van pres. Donald Trump betoog Saterdag in Washington. Foto: AP

Trump hou steeds vol die afgelope verkiesing is “gesteel” en maak steeds bewerings van verkiesingsbedrog as rede vir sy nederlaag.

Die Trump-veldtog het regsgedinge aanhangig gemaak om die uitslae in veelvuldige state om te keer, hoewel sonder sukses, en regskenners meen die litigasie het ’n skraal kans om die uitslag van die verkiesing van 3 November te verander. Verkiesingsbeamptes van albei partye het gesê daar is geen bewyse van groot ongerymdhede nie.

Die Million Maga March, wat verwys na Trump se veldtogslagspreuk “Make America Great Again”, het Saterdag ’n skare ondersteuners met vlaggies en plakkate na die middestad van Washington gelok.

“Honderdduisende mense wat hul steun in DC betoon. Hulle sal nie ’n bedrieglike en korrupte verkiesing aanvaar nie!” het die president op Twitter geskryf, hoewel die meeste skattings van die grootte van die skare baie minder is as syne.

Betogers het gejuig toe Trump se motorstoet by hulle verbygery het op pad na sy gholfbaan in Virginia. Trump het van die agtersitplek in die kar vir die mense gewaai.

Die optog was grotendeels vreedsaam, hoewel talle onderonsies tussen Trump-ondersteuners en anti-Trump- betogers uitgebreek het wat tot ná donker aangehou het. Een persoon is beseer en hospitaal toe geneem, sê die polisie. Die Washington Post het berig dat ’n steekvoorval te midde van ’n bakleiery wat ná 20:00 uitgebreek het, plaasgevind het.

Pres. Donald Trump waai vir sy ondersteuners wat Saterdag in Washington byeengekom het om hul steun aan hom te wys. Foto: AP

Tientalle Proud Boys, ’n verregse groep, het deur die strate beweeg, waarvan sommige valhelms en koeëlvaste onderbaadjies aangehad het, terwyl lede van die verlinkse beweging bekend as Antifa teen-betogings uitgevoer het.

Die stad se polisie het minstens tien mense in hegtenis geneem van wie sommige van aanranding aangekla is.

Volgens Edison Research het Biden 306 stemme verower in die kieskollege, wat die uiteindelike wenner bepaal. Dit is veel meer as die 270 wat nodig is om ’n meerderheid te behaal.

Trump het in 2016 dieselfde aantal kieskollege-stemme verwerf oor die Demokratiese kandidaat Hillary Clinton, ’n oorwinning wat hy ’n “wegholoorwinning” genoem het, ondanks die feit dat Clinton die nasionale populêre stem gewen het. Biden het ook die populêre stem gewen en met enkele state wat nog stembriewe tel, is hy voor Trump met meer as 5,5 miljoen stemme, oftewel 3,6%.

Met sy kanse om die uitslag om te keer feitlik geblus, het Trump potensiële mediabedrywighede met adviseurs bespreek wat hom in die kollig sal hou voor ’n moontlike herverkiesing vir ’n tweede termyn in 2024, het assistente gesê.

Maar deur sy openbare bewerings van ’n “bedrieglike” verkiesing het hy Biden en sy span verhinder om toegang te verkry tot die regeringskantoor en die finansiering wat normaalweg aan ’n inkomende regering gebied word om ’n gladde oorgang te verseker.

’n Trump-ondersteuner stap Saterdag verby die Capitol in Washington. Foto: AP

Die federale agentskap wat verantwoordelik is vir die verskaffing van daardie hulpbronne het nog nie Biden se oorwinning erken nie.

State is besig om hul verkiesingsuitslae te sertifiseer. Die kieskollege vergader op 14 Desember om vir die nuwe president te stem.

Biden se keuse vir personeelhoof van die Withuis, Ron Klain, het vandeesweek gesê dat ’n vinnige oorgang nodig is om te verseker dat die regering voorbereid is om vroeg volgende jaar ’n moontlike inenting teen die koronavirus beskikbaar te stel.

Die skynbaar onkeerbare pandemie sal waarskynlik Biden se topprioriteit wees. Amerika het Vrydag die vierde agtereenvolgende dag ’n nuwe rekord opgestel van nuwe voorvalle.

Meer as 244 000 mense in die land is reeds dood aan Covid-19 sedert die pandemie begin het. - Reuters

Meer oor:  Joe Biden  |  Donald Trump  |  Washington  |  Betoging  |  Amerikaanse Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.