Reddingswerkers het Vrydag op ’n lyk afgekom twee dae nadat ’n grondverskuiwing verskeie huise verwoes het by die dorpie Gjerdrum in die suide van Noorweë.
Minstens 10 mense is Woensdag in die grondverskuiwing beseer. Nege word nog vermis.
Roy Alkvist, hoof van die soek-en-reddingspoging, het Vrydag aan Reuters gesê ’n lyk is gevind. Hy wou egter nie meer besonderhede bekend maak nie.

Reddingswerkers in die dorpie Gjerdrum in die suide van Noorweë. Die lyk van een van die vermiste mense is Vrydag gevind. Nege mense word nog vermis ná ’n grondverskuiwing in die gebied. Foto: AP
’n Soek-en-reddingspan van die naburige Swede het ook gehelp soek na mense wat deur die grond verswelg is.
Sowat 1 000 mense is gelas om Gjerdrum te verlaat omdat kommer heers oor krake in die grond.
Die 83-jarige koning Harald van Noorweë het Donderdag in sy tradisionele Oujaarsaand-toespraak gesê die “tragiese gebeurtenis het ’n diep indruk op almal laat”.
Die BBC berig dat reddingswerkers in ’n wedloop teen tyd gewikkel is met net ’n paar uur daglig tot hul beskikking.
Volgens die polisie is hommeltuie met spesiale toerusting laas nag gebruik in die soektog.