Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Eerste slagoffers van Christchurch-slagting begrawe

’n Pa en seun is van die eerste slagoffers van die Nieu-Seelandse moskee-aanvalle wat Woensdag in ’n begraafplaas nie ver van die Linwood-moskee in Christchurch nie begrawe is.

Dié moskee was een van die plekke wat deur ’n enkele aanvaller aangeval is, berig Channel New Asia.

Khaled Mustafa (44) en sy 15-jarige seun, Hamza, is ter ruste gelê terwyl hul name oor ’n luidspreker uitgeroep is.

Die Mustafa-familie het verlede jaar as vlugtelinge uit Sirië in Nieu-Zeeland aangekom.

’n Jonger boetie, Zaid (13), is in die been gewond en het die begrafnis in ’n rolstoel bygewoon. Hy het saam met ander roubeklaers sy hande omhoog gehou.

Zaid Mustafa in ’n rolstoel op sy pa en broer se begrafnis. Hy is in die been gewond.Foto: Getti images

Volgens AFP het hy langs die graf gesê: “Ek behoort nie hier voor julle te staan nie. Ek moes langs julle gelê het.”

Jacinda Ardern, premier van Nieu-Seeland, het aan verslaggewers gesê dit is onbeskryflik erg dat die lede van ’n gesin, wat na hierdie land gekom het om veilig te wees, doodgeskiet is, berig SkyNews.

Die lyke van 30 van die 50 slagoffers wat in die aanval gesterf het, is aan hul families beskikbaar gestel om begrawe te word, het Ardern gesê. Daar is egter frustrasie in die gemeenskap omdat al die lyke nog nie aan die families besorg is nie want volgens die Moslem-gebruik moet ’n oorledene so gou as moontlik begrawe word.

Mohamed Safi (23), wie se pa, Matiullah Safi, in die Al Noor-moskee gesterf het, is ongelukkig omdat hulle nie genoeg inligting kry nie.

Volgens SkyNews het hy aan AFP gesê dat die owerhede net sê dat prosedures gevolg word.

Van die eerste slagoffers van die skietvoorval in Christchurch, Nieu-Seeland is Woensdag begrawe.Foto: Reuters

Mike Bush, Nieu-Seeland se kommissaris van polisie, het verduidelik dat die owerhede in elke geval die oorsaak van dood moet vasstel vir die howe om dit as moord te aanvaar.

“Jy kan nie iemand aan moord skuldig bevind sonder dat die oorsaak van die dood bepaal is nie. So dit is ’n baie omvangryke proses wat met die hoogste standaard afgehandel moet word.

Ardern het gesê ’n herdenkingsdiens vir die slagoffers word beplan, wat internasionale verteenwoordigers kan insluit.

Sy het gesê daar sal ’n stilte van twee minute wees presies ’n week ná die skietvoorval en dat die Moslems se tradisionele oproep om te bid oor die radio en TV uitgesaai sal word.

’n Groot tent is opgeslaan sodat familielede en vriende nog tyd saam met die oorledenes kon deurbring voordat hulle begrawe is.

Nog begrafnisse sal Woensdag gehou word.




Meer oor:  Christchurch-Aanvalle  |  Moskee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.