Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Einde van ’n ikoon se era

Terwyl huldeblyke van oor die Amerikaanse politieke spektrum heen instroom vir regter Ruth Bader Ginsburg (87), wat Vrydag dood is, woed die stryd oor haar opvolger in die land se hoogste hof reeds.

Regter Ruth Bader Ginsburg in 1993 in die Withuis se Roostuin, waar sy haar benoeming deur pres. Bill Clinton aanvaar het.

Pres. Donald Trump het al voor haar dood ’n lys met moontlike kandidate bekend gemaak, maar die Demokrate hou vol die wenner van die presidentsverkiesing einde vanjaar moet die reg kry om ’n nuwe regter te benoem.

Pres. Bill Clinton het Bader Ginsburg in 1993 as een van die nege regters van die hoogste hof benoem. Sy was slegs die tweede vrou op dié bank.

Die vuur vir die gelykheidstryd is in haar aangesteek toe die dekaan van die Harvard-Universiteit se regsfakulteit, waar sy aanvanklik gestudeer het, haar en die ander agt vrouestudente in die groep gevra het wat hulle goed genoeg maak om die plek van ’n man te kan inneem.

‘Ek vra geen guns vir my geslag nie.’

Daarna het sy haar vir geslagsgelykheid en vroueregte beywer en bekendheid verwerf vir haar liberale uitkyk.

Pankreaskanker is in 2009 by haar gediagnoseer en tog het sy sedertdien selde ’n dag se werk gemis, selfs nadat sy in Julie aangekondig het sy gaan chemoterapie ontvang.

’n Regstudent het haar die naam “The Notorious RBG” gegee na aanleiding van die kletsrymer The Notorious BIG, met wie sy blykbaar baie gemeen gehad het. Haar lewensverhaal is ook vertel in die onlangse fliek On the Basis of Sex en in ’n dokumentêr van 2018 wat op haar lewe en regsloopbaan fokus.

Regter Ruth Bader Ginsburg vier in 2013 haar 20ste jaar in die hoogste hof. Foto: Getty Images

“Ek vra geen guns vir my geslag nie. Al wat ek vra is dat ons broers hul voete van ons nek sal haal,” sê Ginsburg in dié dokumentêr.

Huldeblyke het van wyd en syd vir die 87-jarige regter ingestroom – van bekendes en minder bekendes.

Talle het haar geprys vir haar werketiek en verbintenis tot die regte van mans én vroue, en dat sy haar man, Martin, tydens sy kankerstryd verpleeg het terwyl sy gewerk, gestudeer en twee kinders grootgemaak het.

Die aktrise Kristen Bell het op sosiale media geskryf: “Min vroue was so toegewyd om ander te help as Ruth Bader Ginsburg.

“Ek is diep bedroef deur hierdie verlies, vir almal, maar die meeste vir my dogtertjies.”

Hillary Rodham Clinton, voormalige Demokratiese presidentskandidaat, het gesê: “Regter Ginsburg het die weg gebaan vir so baie vroue, ook vir my. Daar sal nooit weer iemand soos sy wees nie. Dankie, RBG.”

Oudpres. Jimmy Carter, wat haar in 1980 as regter in die federale appèlhof aangestel het, het haar bestempel as ’n baken van geregtigheid in haar lang en merkwaardige loopbaan.

Toe Trump ná ’n verkiesingsaamtrek in Minnesota van haar dood hoor, het hy gesê: “Sy het ’n verstommende lewe gelei. Wat anders kan mens sê?

“Sy was ’n verstommende vrou. Ek’s hartseer om dit te hoor.”

Sy Demokratiese teenstander, Joe Biden, het gesê sy was verbete en onverskrokke in haar strewe na burgerregte vir almal.

“Haar menings en minderheidsuitsprake sal nog ’n geslag lank die grondslag van die reg vorm. Daar is geen twyfel nie – laat ek dit duidelik maak – die kiesers moet die president kies en die president moet die regter kies dat die senaat dit kan oorweeg.”

Ginsburg se dood gee Trump die kans om die hoogste hof se konserwatiewe meerderheid tot ses regters teenoor drie te vergroot.

Die senaat moet die benoeming bekragtig en Trump se Republikeine hou 53 van die 100 senaatsetels.

Konserwatiewe kampvegters probeer al jare lank genoeg stemme in dié hof kry om die uitspraak ten gunste van aborsie omgekeer te kry.

*Bykomende bronne: Reuters, Al Jazeera, CNN en NRP

Meer oor:  Donald Trump  |  Ruth Bader Ginsburg  |  Vsa  |  Geslagsgelykheid  |  Aktivis  |  Vroueregte  |  Regter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.