Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Ek het nié gesê Meghan is naar nie’ – Trump

Pres. Donald Trump wat Maandagoggend in Londen aangekom het, het sommer al op die vooraand van sy amptelike besoek aan Brittanje een van sy ondiplomatiese stelling kwytgeraak en sal hom waarskynlik ook nie tydens sy besoek kan inhou nie.

Trump het gesê dat Meghan Markle, die jongste toevoeging tot die koninklike huishouding, naar (nasty) is omdat sy hom in ’n stadium as ’n vrouehater beskryf het, berig CNN.

Meghan Markle. Foto: Getty Images

“Ek het nie geweet sy is naar nie,” het hy getwiet. Maar Sondagoggend het hy weer getwiet: “Ek’t nooit gesê Meghan Markle is naar nie.”

Die meeste besoekende staatshoofde sal uit hul pad uit gaan om geen kommentaar te lewer oor die spanning in die Britse politiek nie, maar of Trump hom gaan laat voorskryf, is ’n ander storie, berig Reuters.

Trump het net voor sy aankoms in Engeland gesê die land moet weier om die $50 miljard-“skeidingsgeld” aan die Europese Unie (EU) te betaal en moet “wegstap” van die Brexit-onderhandelings as Brussel nie behoorlike toegewings maak nie.

Trump het aan die Sunday Times gesê Brittanje moet Nigel Farage, leier van die Brexit-party, stuur om met die EU te onderhandel.

“Ek hou baie van Nigel. Hy het baie om te bied, hy is baie slim. Dink net hoe goed sal hulle (die Britte) vaar as hulle hom inbring. Hulle het dit nog net nie besef nie.”

Farage wil uit die EU padgee sonder ’n ooreenkoms.

As Brittanje eers uit EU is – wat volgens Trump vanjaar nog moet gebeur – sal hy voluit werk aan ’n handelsooreenkoms met Brittanje.

“Hulle moet dit net gedoen kry,” het Trump aan die koerant gesê.

As Brittanje eers uit EU is – wat volgens Trump vanjaar nog moet gebeur – sal hy voluit werk aan ’n handelsooreenkoms met Brittanje.

Nog raad van Trump is dat Brittanje ’n Brexit sonder ’n ooreenkoms moet najaag as die land teen einde Oktober nie verdere toegewings van die EU gekry het nie.

“As hulle nie kry wat hulle wil hê nie, sou ek weggestap het (van die onderhandelingstafel). As ’n mens nie ’n billike ooreenkoms kry nie, dan stap jy weg.”

Die 13 kandidate in die stryd om Theresa May as premier op te volg is verdeeld daaroor of die land die EU met of sonder ’n ooreenkoms moet verlaat.

Boris Johnson, die gunstelingkandidaat, wat deur Trump in die Sunday Times geprys is, is bereid om te loop sonder ’n ooreenkoms, net soos Dominic Raab, gewese Brexit-minister, en Sajid Javid, minister van binnelandse sake in May se kabinet.

Trump het gesê Amerika sal baie vinnig werk om ’n handelsooreenkoms met Brittanje te sluit as die Britte nie deur ’n oorgangstyd met die EU verbied word nie.

Donald Trump
Donald Trump. Foto: Getty/Gallo Images

Só ’n handelsooreenkoms sal landbou en gesondheidshulp insluit.

Kommer is in Brittanje uitgespreek oor die aanvaarding van Amerika se landboustandaarde – veral hoendervleis wat in chloor gewas word – en om as prys vir ’n handelsverdrag Brittanje se staatsondersteunde gesondheidsorgstelsel vir Amerikaanse maatskappye oop te stel.

Trump het ook gesê hy sal die leier van die Arbeidersparty, Jeremy Corbyn, ’n bietjie beter moet leer ken voordat Amerika geheime inligting met hom en sy linkse party kan deel.

Hy het Brittanje ook gewaarsku om nie die uitruil van inligting tussen die twee lande in gevaar te stel deur die Chinese tegnologiemaatskappy Huawei in sy kommunikasienetwerk toe te laat nie, berig Reuters.

Trump en sy vrou, Melania, sal koningin Elizabeth op hul eerste dag in Londen ontmoet. Nog glansgeleenthede word beplan, maar betogers kan ook in die Londense middestad verwag word, berig The Guardian.

May, wat Vrydag haar premierspos verlaat, beskryf Trump se besoek as ’n goeie geleentheid om verdere handelsooreenkomste te sluit.

“Ons is die grootste beleggers in mekaar se ekonomieë en ons sterk handelsverhouding en nabye sakeverbintenisse skep werk, geleenthede en rykdom vir ons mense.”

Meer oor:  Donald Trump  |  Meghan Markle  |  Londen  |  Amerika  |  Brexit  |  Ampsbesoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.