Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Eloise dood 4, veroorsaak oorstromings in Mosambiek
Swaar reën wat deur die sikloon Eloise veroorsaak is, het tot erge vloede in Mosambiek gelei. Foto: Facebook

Die tropiese sikloon Eloise het Saterdag verwoesting gesaai in Beira in Mosambiek toe dit hier aan wal gekom het.

Talle inwoners is dakloos gelaat nadat stormwinde ’n windsterkte van tot 160 km/h gehaal het.

Luidens ’n berig Sondag deur die BBC het sowat 250 mm reën binne ’n bestek van 24 uur in die stad uitgesak.

Dit het tot grootskaalse vloede en kragonderbrekings gelei.

Kommunikasie in groot dele van Mosambiek is afgesny.

Die BBC sê volgens plaaslike amptenare is vier mense in die storm dood.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens, wat Eloise die afgelope week gemonitor het, het Saterdag gesê die tropiese storm het oor die Mosambiekkanaal tot ’n tropiese sikloon versterk, maar is weer na ’n hewige tropiese storm afgegradeer nadat dit Beira getref en oor die binneland beweeg het.

Dit is Sondagoggend verder tot ’n laagdrukstelsel afgegradeer wat tot swaar neerslae oor die verre noordelike dele van Limpopo gelei het.

Teen dié tyd het die windspoed ook beduidend afgeneem.

Nhampossa Manuel, ’n Mosambieker wat in Zambië studeer, sê die weerstoestande wat deur Eloise in Beira veroorsaak is, was angswekkend.

Kyk hier na Unicef se foto. 

“Dit was verskriklik. My familie is daar vasgekeer en ek sukkel om met hulle te kommunikeer.”

Beira gaan nie net gebuk onder die skade wat Eloise aangerig het nie. Die stad probeer nog herstel nadat die sikloon Idai in 2019 hier getref het.

Idai het die dood van sowat 1 300 mense in Mosambiek, Zimbabwe en Malawi veroorsaak en baie meer is vermis.

Die gebied kry ook die afgelope weke reeds swaar reën en talle riviere was reeds in vloed, nog voordat Eloise Mosambiek Saterdag getref het.

Gideon Groenewald, geoloog vir Gift of the Givers, sê die bogemiddelde swaar somerreënval tans word aan die sterk La Niña-stelsel toegeskryf.

'n Woning in Beira is erg deur die sikloon Eloise beskadig. Foto: Verskaf
Groot dele van Beira in Mosambiek is onder water nadat die tropiese sikloon Eloise Saterdag die stad getref het. Foto: Verskaf
Groot dele van Beira in Mosambiek is onder water nadat die tropiese sikloon Eloise Saterdag die stad getref het. Foto: Verskaf
'n Noodwerker van Medi Response berei die noodvoertuie voor waarmee die instansie reddingswerk in Mosambiek sal verrig. Foto: Medi Response
So lyk die noodtoerusting wat die span van Medi Response in reddingsoperasies in Mosambiek sal gebruik. Foto: Medi Response
Die nood- en reddingtoerusting sal deur die nood-en-reddingswerkers van Medi Response in Mosambiek gebruik word. Foto: Medi Response

Hy sê Eloise het baie vinnig verswak en sal hoofsaaklik met swaar neerslae gepaard gaan wat tot oorstromings in Limpopo en Mpumalanga sal lei.

Die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal sal moontlik nie so erg geraak word soos aanvanklik voorspel is nie.

Intussen het talle organisasies hulp aan die inwoners van Beira begin verleen.

Medi Response, ’n verskaffer van noodbestuursdienste, en die Lenmed Maputo- private hospitaal het Sondag ’n reddingspan vanaf Johannesburg gestuur om met ’n reddingsoperasie in Beira te begin.

Nathan Foure, Medi Response-woordvoerder, sê die

multidissiplinêre span bestaan uit mediese en reddingspersoneel.

Hy sê Medi Response is ook bekommerd oor die toestande in die noorde van Limpopo en maan inwoners om laagliggende gebiede en rivieroewers te vermy.

Dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers sê die organisasie het ’n noodspan op bystand.

“Ons monitor die situasie. Die terugvoer van Mosambiek is dat hulle die situasie onder beheer het en dat dit nie so erg is as wat hulle aanvanklik gedink het nie.”


Meer oor:  Mosambiek  |  Tropiese Storm Eloise  |  Oorstroming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.