Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Elon Musk seëvier met ruimtevaart

Die koppeling is afgehandel.

Die SpaceX Crew Dragon-kapsule (regs) kom Sondag by die Internasionale Ruimtestasie aan. Skermgreep: NASA TV

Só het die Amerikaanse ruimteagentskap (Nasa) Sondag om 16:33 Suid-Afrikaanse tyd aangekondig toe die ruimtevaarders Bob Behnken en Doug Hurley met die Crew Dragon-kapsule aan die Internasionale Ruimtestasie (ISS) gekoppel is.

Dit was ná ’n ruimtevlug van net minder as 19 uur.

Hulle is ná ’n lang proses deur kol. Andrew Morgan, bevelvoerder van die ISS, aan boord van die ruimtestasie verwelkom.

SpaceX, die ruimtevaart­onderneming van die Suid-Afrikaans gebore Elon Musk, het Saterdag geskiedenis gemaak deur die twee ruimtevaarders van Nasa met sy eie tuig die ruimte in te stuur.

Die ruimtevaarders is net ná 21:00 (SA tyd) in die Falcon 9 Crew Dragon-ruimtetuig van die Kennedy-ruimtesentrum by Cape Canaveral gelanseer.

Die lansering is gedoen van dieselfde lanseringsblad van waar die historiese Apollo 11- bemande sending in 1969 na die maan vertrek het, het The Washington Post berig.

Die kapsule het 12 minute ná die lansering van die vuurpyl­aanjaer ontkoppel en sy tog na die ISS voortgesit.

Die Falcon 9-vuurpylaanjaer het veilig na die aarde teruggekeer en ’n volmaakte landing op die dek van ’n hommelskip, genaamd Of Course I still Love You, uitgevoer, het SpaceX ná die landing getwiet.

Behnken en Hurley is albei oud-weermagvlieëniers wat al voorheen op ruimtependeltuigreise was.

Sowel pres. Donald Trump as adjunkpres. Mike Pence, wat voorsitter is van Amerika se Nasionale Ruimteraad, het die lansering bygewoon.

Hoewel hulle herhaaldelik deur Nasa gewaarsku is om weens die Covid-19-pandemie liewer tuis te bly, het toe­skouers in groot getalle al langs die strande by die Kennedy-ruimtesentrum opgedaag om die lansering gade te slaan.

Toegang tot die ruimtesentrum is streng beperk.

Die ruimtevlug was die vervulling van ’n gewaagde kans wat Nasa tydens die bewind van pres. Barack Obama geneem het om die lansering van ruimtevaarders aan die private sektor toe te vertrou.

Die ruimtevaarder Bob Behnken word deur die span op die Internasionale Ruimtestasie aan boord verwelkom. Skermgreep: NASA TV

Dit was dus ook ’n historiese oomblik vir Musk se SpaceX, wat die eerste private korporasie geword het wat mense die ruimte instuur.

Nasa en ruimtevlug-aanhangers het byna ’n dekade lank gewag vir dié mylpaal waarmee bemande ruimtevlugte weer teruggebring is na Amerikaanse bodem.

Musk het SpaceX in 2002 begin met die doel om uiteindelik mense na Mars te laat reis.

Ná die sending sal Nasa en SpaceX die data ontleed om seker te maak dat die ruimtetuig vir verdere sendings gebruik kan word. Tot vier ruimtevaarders sal op ’n slag na en van die ruimtestasie vervoer kan word.

Die weer het verlede Woensdag dié mylpaal-oomblik in die wiele gery en die lansering moes tot Saterdag uitgestel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.