Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Elton lap Diana se skandes en skades uit

’n Boek oor kaal mans het glo daartoe gelei dat Elton John en Diana, prinses van Wallis, maande lank nie met mekaar gepraat het nie. Dít en ’n storie oor Sylvester Stallone en Richard Gere se ba­kleiery oor haar is van Elton John se biegverhale oor Diana wat in sy outobiografie, Me, verskyn.

Diana, prinses van Wallis.

Die boek sal einde vandeesmaand beskikbaar wees. ’n Uittreksel het Vrydag in die Britse Mail Online verskyn.

Volgens sir Elton het Diana in 1996 ingestem om die voorwoord van ’n boek te skryf wat foto’s van kaal mans bevat het, maar later koue voete gekry. Die opbrengs van die boek Rock and Royalty, saamgestel deur die modeontwerper Gianni Versace, sou aan sir Elton se vigs­stigting gaan.

“Ek dink die Buckingham-paleis het nie daarvan gehou dat ’n lid van die koninklike familie iets met ’n boek te doen het waar ouens sonder handdoeke om verskyn nie.

“Diana het op die nippertjie haar voorwoord teruggetrek. Sy het beweer sy het geen idee waaroor die boek gaan nie, maar dit was nie waar nie. Gianni het die hele boek vir haar gewys en sy het vir hom gesê sy hou daarvan.

Elton John se outobiografie.

“Ek het vir haar teruggeskryf, haar tereggewys en haar daaraan herinner dat sy die boek gesien het. Die brief wat ek teruggekry het, was baie formeel en ernstig: Geagte mnr. John . . .”

Sir Elton sê hy was kwaad vir haar, maar ook bekommerd. “Dit het gelyk asof sy kontak verloor het met baie van haar goeie vriende wat eerlik met haar was en haarself omring het met mense wat vir haar vertel het wat sy wou hoor.”

Hy het eers weer op 15 Julie 1997, die dag van die moord op Versace, met haar gepraat. “Sy het my gebel om uit te vind of ek met Donatella (Ver­sace se suster) gepraat het. “Sy het toe gesê: ‘Ek is so jammer. Kom ons wees vriende,’ ” skryf hy. Diana is daarna saam met hom na Versace se begrafnis.

Hy vertel Richard Gere en Sylvester Stallone het een keer byna handgemeen geraak oor Diana. Die twee en Diana was saam met ander bekendes by ’n ete by sy en David Furnish se huis.

“Die eienaardigste toneel het ontwikkel toe Gere en Diana vir mekaar gekyk het.” Sy was op die punt om van prins Charles te skei en Gere en die model Cindy Crawford is uitmekaar. “Hulle het saam voor die kaggel gaan sit en diep met mekaar gepraat.” Volgens John het dit nie gelyk asof Stallone beïndruk was nie. “Ek dink hý wou by haar vlerksleep.”

Meer oor:  Elton John  |  Diana  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.