Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘EU moet bietjie skiet gee’

Die deur is steeds effens oop vir Brittanje en die Europese Unie (EU) om ’n ná-Brexit-ooreenkoms te bereik, maar die blok gaan sy benadering moet verander en wys dat hy ernstig is voordat gesprekke vandeesweek kan hervat.

So sê Michael Gove, ’n senior Britse minister.

Hy sê die EU het van die vordering wat in die onderhandelinge gemaak is, versmaai omdat hy hom nie tot intensiewer gesprekke wou verbind of gedetailleerde regsgeskrifte wou opstel nie.

“Ons hoop dat die EU sy standpunt sal verander.

“Ons sê beslis nie as hulle wel hul standpunt verander dat ons nie met hulle sal kan praat nie,” het hy Sondag aan die BBC gesê.

Michael GoveFoto: REUTERS

Die jongste gesprekke het Donderdag skipbreuk gely toe die EU gesê het Brittanje moet se­kere toegewings doen.

Boris Johnson, Britse eerste minister, het Vrydag teruggekap en aan die EU gesê daar is geen punt om met onderhandelinge voort te gaan nie tensy die EU sterk van koers verander.

Johnson het sake-ondernemings aangeraai om hulle gereed te maak vir ’n geen-ooreenkoms-Brexit teen die spertyd daarvoor einde vanjaar.

Europese leiers het egter vir Michel Barnier, hul hoofonderhandelaar, aangesê om voort te gaan met onderhandelings.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Vrydag gesê daar is geen tweespalt in die EU-blok nie.

“Ons is gereed vir ’n ooreenkoms, maar nie tot elke prys nie,” het hy gesê.

Kwessies wat steeds opgelos moet word, sluit in billike mededingingsreëls, dispuutoplossing en visserye.

Gove het op ’n vraag van Sky News of Barnier vandeesweek soos beplan is Londen toe gaan kom, gesê “die bal is in Barnier se baan”.

“Ons het dit duidelik gestel dat die EU sy benadering sal moet verander,” het Johnson gesê en bygevoeg dat Barnier in die komende dae met David Frost, sy Britse eweknie, sal praat.

“Kom ons kyk of die EU die noodsaak daarvan besef om tot ’n ooreenkoms te kom en om van houding te verander.”

’n “Geen-ooreenkoms”-einde aan Brittanje se vyf jaar lange Brexit-krisis sal verskaffings­kettings oor Brittanje, die EU en selfs elders ontwrig te midde van die verergerende ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie.

“Dit sal dalk nie my voorkeuroplossing wees nie,” het Gove in ’n meningstuk in die Londense Sunday Times gesê, “maar as die keuse is tussen reëlings wat ons hande onbepaald bind en of ons ons eie toekoms kan bepaal, is dit vanselfsprekend.”

Johnson het Vrydag gesê dat Brittanje hom moet regmaak vir ’n soortgelyke ooreenkoms met die EU as die een wat hy met Australië het, “gegrond op eenvoudige beginsels van globale vrye handel”.

Johnson se kritici sê ’n Australiese ooreenkoms is net kodetaal vir “geen ooreenkoms nie” met Brittanje se grootste uitvoermark.

Meer as 70 Britse sakegroepe wat meer as 7 miljoen werkers verteenwoordig, het politici Sondag aangemoedig om na die onderhandelingstafel terug te keer en ’n Brexit-ooreenkoms te bereik.

“Met kompromie en taaiheid kan ’n ooreenkoms bereik word. Die sakesektor doen ’n beroep op leiers aan albei kante om ’n pad hierdeur te vind,” het hulle gesê. – Reuters

Meer oor:  Boris Johnson  |  Michael Gove  |  Eu  |  Europese Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.