Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
EU plaas druk op Brittanje

Die volgende skuif in die Brexit-spel is Brittanje s’n. Die Europese Unie (EU) het Woensdag gesê die land moet nou ’n besluit oor sy onttrekking aan die handelsblok neem.

’n Gefrustreerde EU en ’n verergde Brittanje het mekaar vandeesweek wedersyds vermaan om tot ’n vergelyk te kom sodat die Brexit-drama ná vyf jaar nie op so ’n manier tot ’n einde kom dat dit bydra tot die ekonomiese pyn wat die Covid-19-pandemie vanjaar veroorsaak nie.

Die blok se hoofonderhandelaar glo ’n ooreenkoms is steeds binne bereik in die tien weke wat nog oor is.

“Daar is min tyd en ons is gereed om 24/7 oor alle onderwerpe, oor regstekste, te praat.

Charles Michel Foto: AP

“Brittanje het ’n besluit om te neem en dit is sy vrye en soe­wereine keuse,” het Charles Michel­, president van die Europese Raad, aan die Europese Parlement gesê.

Michel sê Brittanje se antwoord sal die vlak van toegang tot die EU se interne mark van 450 miljoen verbruikers bepaal en voeg by: “Dit is net gesonde verstand.”

Michel Barnier, die EU se Brexit-onderhandelaar, het aan die parlement gesê ’n ooreenkoms is steeds “binne bereik”.

“Tyd is van wesenlike belang . . . Saam met ons Britse ampsgenote moet ons oplossings vir die moeilikste aspekte soek,” sê Barnier­.

Die Britse regering het vandeesweek geweier om met vol­ledige onderhandelinge voort te gaan en sê die EU moet sy houding “fundamenteel verander”.

Die blok beskou dit as ’n manier van Boris Johnson, Brittanje se premier, om mense ’n rat voor die oë te draai, maar het ook ’n olyftakkie uitgehou deur Britse soewereiniteit te bespreek. Die EU wys ook hy is bereidwillig om intensiewe besprekings te hou, aan die hele front én oor spesifieke regsaspekte.

’n Britse woordvoerder sê die regering het Barnier se opmerkings “met belangstelling” waargeneem wat “op ’n belangrike manier die kwessies agter die probleme in ons gesprekke raak”.

Michel beklemtoon dat die 27 EU-lede gereed is vir ’n skielike skeiding sonder ’n nuwe ooreenkoms om tariewe of kwotas te vermy. Hy het die drie groot knelpunte in die onderhandelinge uitgelig: die waarborg van visvangregte, ekonomiese billikheid en ooreenstemmende maniere om toekomstige handelsgeskille te besleg.

“Ons het nie woorde nodig nie, ons het waarborge nodig,” sê hy oor maatreëls vir billike mededinging.

“Wil ons Britse vriende die staatshulp reguleer en mediese standaarde behou? Indien wel, hoekom nie daartoe verbind nie?”

Michel vra om “bindende, onafhanklike arbitrasie” om markverwringing vinnig reg te stel en sê Brittanje se nuwe konsep-wetsontwerp op die interne mark – wat, indien dit aanvaar word, Brittanje se vroeëre egskeidingsooreenkoms met die EU sou ondermyn – slegs die voorneme van die blok versterk om streng polisiëring van enige nuwe ooreenkoms te verseker.

Maros Sefcovic, ’n adjunk-hoof van die blok se uitvoerende Europese Kommissie, sê Brittanje moet sy Brexit-skikking met die EU respekteer ongeag die uitkoms­ van die handelsgesprekke.

Michel sê om toegang tot Britse waters te verloor, sal “uitermatige skade” aan die EU se visvangbedryf­ aanrig en die blok probeer daarom die status quo verleng, net soos Brittanje die EU-markte vir sy ondernemings wou oophou.

Maar Brittanje wil toegang tot die enkelmark hê “en terselfdertyd kan afwyk van ons standaarde en regulasies wanneer dit hom pas. Jy kan nie jou brood aan albei kante gebotter wil hê nie”, sê Michel.

Brittanje se huidige EU-handelsvoorwaardes verval oor tien weke en onbeperkte handel kan nie meer sonder ’n nuwe verdrag gewaarborg word nie.

Die blok is bereid om tot die middel van November te onderhandel, maar moet dan enige ooreenkoms in die Europese parlement bekragtig voordat die spertyd verstryk.

“Ons deure bly oop en sal tot die laaste dag moontlik oop wees,” sê Barnier.

“Maar twee is nodig om ’n ooreenkoms te bereik.” – Reuters

Meer oor:  Michel Barnier  |  Brexit  |  Europese Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.