Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
EU stel sanksies teen vermeende kuberkrakers in

Die Europese Unie (EU) het Donderdag reis- en finansiële sanksies ingestel teen ’n afdeling van Rusland se militêre intelligensiediens en Noord-Koreaanse en Chinese maatskappye weens hul vermeende deelname aan groot kuberaanvalle wêreldwyd.

Dit is die eerste keer dat die EU sanksies instel wat met kubermisdaad verband hou en die Russiese afdeling vir spesiale tegnologieë in die militêre intelligensiediens teiken, sê die EU in ’n verklaring.

Die EU beskuldig die Russiese diens daarvan dat hy in Junie 2017 twee kuberaanvalle op verskeie Europese ondernemings gedoen het wat tot groot finansiële verliese gelei het. Die Russe word ook beskuldig van twee kuberaanvalle teen die Oekraïense kragnetwerk in 2015 en 2016.

Sanksies is verder ingestel teen vier individue wat vir die Russiese militêre inligtingsdiens werk omdat hulle na bewering in April 2018 aan ’n kuberaanvalpoging teen die Organisasie vir die Verbod op Chemiese Wapens in Nederland deelgeneem het.

Die Noord-Koreaanse maatskappy Chosun Expo word gestraf weens sy vermeende steun aan die Lazarus-groep wat wêreldwyd verantwoordelik gehou word vir ’n reeks groot aanvalle, waaronder ’n $81 miljoen-diefstal uit die rekening van die Sentrale Bank van Bangladesj by die Federale Reserwebank van New York in 2016 – die grootste kuberbedrog tot nog toe ter wêreld.

Die maatskappy was na bewering ook by ’n aanval op die Hollywood-rolprentateljee Sony Pictures betrokke om die uitreiking van ’n satiriese rolprent oor Kim Jong-oen, die leier van Noord-Korea, in 2014 te voorkom.

Die Amerikaanse tesourie het verlede jaar self sanksies teen die Lazarus-groep en twee ander Noord-Koreaanse kuberaanvalgroepe opgelê weens hul beweerde deelname aan die aanvalle op onder meer Sony Pictures en die Sentrale Bank van Bangladesj.

Daar word beweer dat Noord-Korea se vernaamste intelligensiediens agter die kuberaanvalle sit, maar die land ontken enige betrokkenheid.

Die EU-sanksies geld ook teen die Chinese maatskappye Haitai Technology Development, wat daarvan beskuldig word dat hy die kuberaanvalle bekend as Operation Cloud Hopper gesteun het. Die doel van dié aanvalle was om kommersieel sensitiewe inligting van multinasionale ondernemings wêreldwyd te steel. Die sanksies is ook teen twee Chinese individue ingestel wat glo daarby betrokke was.

Die sanksies sluit ’n reisverbod en die bevriesing van bates in. EU-individue, -maatskappye en ander entiteite word ook verbied om geld beskikbaar te stel aan diegene wat op die swartlys is. Reuters

https://www.reuters.com/article/us-eu-cybercrime-russia-sanctions/eu-sanctions-russian-intelligence-north-korean-chinese-firms-over-alleged-cyberattacks-idUSKCN24V32Q

Meer oor:  Kuberkrakers  |  Sanksies  |  Eu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.