Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Europa steier weens streng Covid-maatreëls

“Vanjaar se Kersfees gaan ’n anderster Kersfees wees,” het Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, dié week gesê terwyl regerings in Europa een ná die ander streng Covid-19-inperkings afgekondig het.

Polisiebeamptes bedwing ’n man tydens ’n betoging teen die sluiting van kroeë en gimnasiums te midde van Covid-19 in Barcelona. Foto: Reuters

Europa is opnuut die middelpunt van die pandemie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is byna die helfte van nuwe infeksies wêreldwyd die afgelope week daar aangeteken.

Bykans 45 miljoen gevalle van Covid-19 is al wêreldwyd aangeteken en meer as 1,17 miljoen mense is volgens die WGO dood aan die virussiekte.

Die nuwe inperkingsmaatreëls in Europa herinner aan die beperkings wat Suid-Afrikaners onder vlak 4-inperkings moes verduur.

In België mag winkels net noodsaaklike goedere verkoop, nienoodsaaklike ondernemings is gesluit, byna almal moet van die huis af werk en daar is ’n aandklokreël. Belgiese hospitale is oorweldig en het Donderdag pasiënte na Duitsland begin stuur.

Die Franse hoofstad is Donderdagaand gekniehalter deur enorme verkeersopeenhopings soos mense uit Parys na die platteland uitgewyk het aan die vooraand van strenger inperkings van Vrydag af. Tot 1 Desember mag die Franse net hul huise verlaat om noodsaaklike goedere te koop, mediese sorg te kry of om vir ’n uur per dag binne ’n radius van ’n kilometer van hul huise te oefen. Restaurante, kroeë en nienoodsaaklike ondernemings soos haarsalonne moet sluit, maar skole en kleuterskole bly oop.

Angela Merkel

Pres. Emmanuel Macron het verklaar dat 58% van waakeenheidbeddens nou deur Covid-19-pasiënte beset word. Altesame 523 mense is Woensdag in Frank­ryk aan die siekte dood – sulke sterftesyfers is laas in April aangemeld, wys statistieke van Our World In Data.

In Duitsland moet kroeë, teaters en gimnasiums môre sluit en restaurante mag net wegneemetes bedien. Winkels bly oop, maar moet minder mense bedien en niks meer as tien mense mag tuis bymekaar kom nie. Die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, het gesê die getal pasiënte in Duitse waakeenhede het die afgelope tien dae verdubbel.

Intussen het gewelddadige betogings die afgelope week in onder meer Milaan, Turyn en Napels losgebars oor die nuus dat die Italianers ingeperk gaan word. Restaurante en kroeë moet om 18:00 sluit, terwyl gimnasiums en teaters heeltemal moet sluit. Mense mag nie bymekaar kom vir troues en begrafnisse nie en ’n aandklokreël geld in die gebiede wat die swaarste getref word. ’n Rekordgetal van 26 829 nuwe Covid-19-gevalle is Vrydag in Italië aangemeld.

Spanje het verlede week opnuut ’n aandklokreël ingestel en byeenkomste en reise beperk.BBC, AP, Euronews, Skynews en Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.