Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Europa wag ’n nuwe vlaag vlugtelinge in

’n Wolk hang bo Europa – die verslegtende betrekkinge tussen Turkye enersyds en Duitsland en Nederland andersyds. Dié wolk is die moontlikheid van ’n hernieude golf vlugtelinge na Europa.

Turkye is vasgevang in ’n referendumveldtog waarin pres. Reçep Tayyip Erdogan die kiesers vra om ’n nuwe grondwet goed te keur waarmee hy prakties ’n diktator word. Hy het die laaste maande in elk geval reeds ’n skrikbewind gevoer ná die mislukte staatsgreep van verlede jaar – tienduisende mense is aangehou, soms gemartel, terwyl ander hul werk verloor of na die buiteland gevlug het.

Aangesien ook die sowat 2 miljoen Turke in Duitsland en Nederland kan stem, wou die Turkse minister van buitelandse sake, Mevlüt Çavusoglu, na dié lande reis om sy landgenote aan te moedig om ten gunste van die nuwe grondwet te stem. Dit is om verskeie redes ’n gevoelige kwessie, iets wat die regerings van dié twee lande liefs wou vermy.

Nederland gaan egter oor ’n week stembus toe (en Duitsland begin September), en die hele kwessie van die Islam en nasionale identiteit speel ’n belangriker rol as gewoonlik. Die vrees is dat Çavusoglu die regse populiste se steun kan stu.

Andersyds is Turkye ’n bevriende moondheid, en dit sou ongehoord wees om sy minister van buitelandse sake toegang te weier.

Terselfdertyd het die Europese Unie (EU) verlede jaar – juis met bondskanselier Angela Merkel en premier Mark Rutte as dryfkrag – ’n ooreenkoms met Turkye gesluit om die stroom vlugtelinge oor die Egeïese See na Griekeland en van daar na Europa te keer, in ruil vir allerlei toegewings.

As die Europeërs die liggeraakte Erdogan ontstel, kan hy die ooreenkoms opskeur.

As die Europeërs die liggeraakte Erdogan ontstel, kan hy die ooreenkoms opskeur. En dan begin die ellende van 2015-’16 weer.

Hoe nou gemaak? Verskeie burgemeesters (onder wie, interessant genoeg, die gematigde Moslem-burgemeester van Rotterdam, Ahmed Aboutaleb), het die moontlikheid van open­bare geweldpleging as ekskuus aangegryp om toestemming vir Çavusoglu se beplande openbare vergaderings te weier.

Dit het Erdogan beweeg om Duitsland van “Nazi-praktyke” te beskuldig. As jy ’n stok in ’n Duitse byenes wil steek, moet jy dít doen. Merkel het die verwyt in die parlement “buitensporig” genoem en gesê dit relativeer die enorme ellende wat die Nazi’s veroorsaak het. “Dié vergelykings moet ophou,” het sy gesê.

In Europa begin die politici ernstig rekening hou met die moontlikheid dat Erdogan die vlugteling-ooreenkoms kan opskeur. En dus word nou naarstig na plan B gesoek.

Die geduld met Erdogan is op. Maar omdat hy insake die vlugtelingkwessie ’n magsposisie het, word hy nog met gepaste geduld behandel. As die EU egter ’n plan B kan bedink, kan Erdogan sy magsposisie vinnig kwytraak.

Meer oor:  Politiek  |  Vlugtelinge  |  Europa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.