Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Europeërs staal hulle vir 2de vlaag van infeksies

Die koronavirus versprei tans selfs vinniger in Europa as die eerste keer toe dit uitgebreek het.

“Die virus sirkuleer vinniger as in die lente,” het die epidemioloog Arnaud Fontanet, wat die Franse regering adviseer, Vrydag gesê.

Frankryk, wat die 1 miljoen-kerf van koronavirusgevalle nader, is een van die lande wat die ergste deur die tweede vlaag van infeksies getref is. Covid-19-pasiënte beset bykans die helfte van die 5 000 beddens in waakeenhede in Franse hospitale en die gesondheidstelsel verkeer onder groot druk.

Die getal infeksies neem oor Europa heen skerp toe. Die daaglikse getal nuwe bevestigde gevalle het binne tien dae meer as verdubbel.

“Ons is almal vreesbevange,” sê Maria, ’n 73-jarige pensioentrekker in Dolny Kubin, Slowakye.

“Ek sien wat gebeur en dit is skrikwekkend.”

Passasiers op ’n metrotrein in Parys, waar die aantal positiewe gevalle gestyg het. Foto: Getty Images

België, een van die lande wat die ergste getref is, het sy regulasies oor sosiale kontak tussen mense Vrydag verskerp en ondersteuners belet om sportwedstryde by te woon.

Pole, nog ’n land waar die daaglikse getal nuwe infeksies styg, het beveel dat alle restaurante en kroeë twee weke lank sluit en dat alle openbare byeenkomste tot vyf mense beperk word.

Spanje, wat vroeër vandeesweek die 1 miljoen-kerf van bevestigde gevalle verbygesteek het, het ’n aandklokreël in Castilla, León en Valencia ingestel.

Premier Pedro Sanchez sê Spanje het volgens amptelike statistieke die meeste gevalle in Europa. Sanchez waarsku dat die werklike prentjie veel erger kan wees nadat landwye toetse vir teenliggaampies gewys het dat meer as 3 miljoen Spanjaarde al die virus onder lede gehad het.

“Indien ons nie die voorsorgmaatreëls volg nie, plaas ons die lewe van diegene wat ons die meeste liefhet, in gevaar,” het Sanchez in ’n toespraak op TV gesê.

“Wat ons moet doen, is om mobiliteit en sosiale kontak te verminder. Daar is geen ander oplossing nie.”

Die goewerneur van Campanië, ’n suidelike streek in Italië, het ook ’n aandklokreël ingestel en skole gesluit.

“Dit is nodig om alles te sluit, buiten ondernemings wat noodsaaklike goedere vervaardig en vervoer,” sê Vincenzo de Luca.

Die aanvanklike openbare steun vir inperkings onder Europeërs aan die begin van die pandemie het algaande afgeneem te midde van dikwels verwarrende en teenstrydige openbare inligting oor die jongste regulasies en toenemende vrese oor die negatiewe impak daarvan op ekonomieë. – Reuters

Reuters: https://www.reuters.com/article/us-health-coronavirus/europe-warned-covid-spreading-more-quickly-further-curbs-loom-idUSKBN27726I

Meer oor:  Koronavirus  |  Europa  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.