Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Everest eis nog 'n lewe: Skokfoto van verkeer op berg
Die bottelnek van klimmers wat tou staan om die piek van berg Everest te bereik, word deels blameer vir die aantal sterftes die afgelope tyd. Foto: Project Possible/Facebook.com

'n Britse bergklimmer is die jongste ongeval op die berg Everest in ’n seisoen wat gekenmerk word deur slegte weer en op goeie dae ’n totale “verkeersknoop” na die piek van die wêreld se hoogste berg.

Robin Fisher (44) is Saterdag dood op pad terug nadat hy die piek bereik het, sê Mira Atsjarja, direkteur van die Nepalese departement van toerisme.

Fisher is op ’n hoogte van 8 600 m dood nadat hy siek geword het, berig The Guardian.

Gidse het vir hom water gegee en sy suurstofbottel omgeruil, maar dit was tevergeefs, sê Moerari Sjarma van die Everest Parivar-ekspedisie waarvan Fisher deel was.

Daar is kommer oor die groot getalle klimmers vanjaar. Verskeie klimmers is al dood en die lang oponthoude en bottelnekke op die roete op en van die berg af kry deels die skuld.

Die Ier Kevin Hynes (56) is Vrydagoggend aan die Tibet-kant van die berg dood, het sy ekspedisieleiers op Facebook aangekondig, berig The Journal.

Hy het omgedraai voordat hy die piek bereik het en is dood gevind in sy tent by die North Col op 7 000 m.

Vier bergklimmers van Indië is ook al dié seisoen dood en een uit onderskeidelik Amerika, Oostenryk en Nepal. Twee klimmers word vermis.

Daar word geskat 600 mense het die piek van Nepal se kant af bereik. Van Tibet se kant af is 140 klimpermitte uitgereik. Daar word voorspel dat verlede jaar se rekordgetal van 807 mense wat die piek bereik het vanjaar oortref kan word.

Kenton Cool, wat die berg reeds 14 keer geklim het, het aan The Guardian gesê daar is twee probleme: die toenemende gewildheid van die klim, veral onder klimmers van Indië en China, en dat die klimmers al hoe minder ervaring het voordat hulle die berg aanpak. Cool stel ’n soort beoordeling van klimmers se vermoë voor.

Meer oor:  Kevin Hynes  |  Robin Fisher  |  Everest  |  Dood  |  Verkeersknoop  |  Klimmers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.